Gallery Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Vele inwoners het Saterdagoggend die koue trotseer om die NG Kerk Graaff-Reinet se Winterfees by Botanies te ondersteun.
Een van die organiseerders, Johan van Jaarsveld, sê hulle is gelukkig met hoe die fees uitgedraai het.
"Alhoewel ons nog besig is om die finale syfers te kry blyk dit dat die jaar se kermis, afgesien van die ekonomie en droogte, een van die beste nog was," het Van Jaarsveld aan die Advertiser vertel.
"Daar word dikwels gesien dat die hoof mikpunt van die fees is om geld in te samel vir die gemeente, maar waar die grootste waarde vir 'n kermis lê is in die saam kuier en gemeenskap van gelowiges. Hierdie jaar was geen uitsondering nie."
Die fees het reeds Vrydag afgeskop, met 'n boereworsrol deur-ry buitekant die Groot Kerk.
Saterdag was daar ook geen tekort aan heerlike kosse nie; pannekoek, ontbyt-burgers en kerrie-en-rys was maar net 'n paar items op die spyskaart om aan te smul.
Te danke aan die kindertafel se soet skeppings kon oud en jonk kies en keur wat hulle vir nagereg wou hê.
Kyk 'n video hieronder:
Daar was ook, onder andere, 'n plantstalletjie, 'n springkasteel en gesigverf vir die jonges, en die altyd-suksesvolle wit-olifant tafel.
"Ons bedank graag elkeen se bydrae in donasies, skenkings en ook arbeid. Die Winterfees is 'n hoogtepunt op die kerk se kalender en ons sien reeds uit na volgende jaar," het Van Jaarsveld bygevoeg.
Heerlike gebak.
Lees 'n vorige artikel: Winterfees-kermis skop af
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet nuus'