HOFMEYR NUUS - Dit was 'n doenigheid op die R391 op Saterdag 15 November. Die bakkies het in gelid gery, al wippend oor die sinkplate en roftes, en die digte rooi stofdwarrels het verseker dat goeie volgafstande gehandhaaf is.
Maar waarheen was hulle op pad?
Hul eindpunt was die jaarlikse ghongskietbyeenkoms by Klipplaatsdrift Safari Lodge - en die manne was reg vir die uitdaging.
Altesaam 60 deelnemers het opgedaag, en dit was 'n vrolike weersiens, want sommiges het mekaar by verlede jaar se ghongskiet laas gesien.
Volgens die organiseerder, Shaun Vermaak, was daar ses uitdagings. Elke span van twee deelnemers kon vyf skote per ghong (uitdaging) skiet.
Vermaak se hele gesin was betrokke by die reëlings, want dit is 'n monumentale organisasie om alles vlot te laat verloop en die puntestate by te hou.
Hierdie jaar was die wenners Dawie Lubbe en Bernard van der Walt met 'n telling van 410 punte uit 600.
Geen geleentheid van hierdie omvang is moontlik sonder borge nie, en Vermaak dra graag sy dank oor aan JSM 4x4, BKB, OVK, Lionel’s Vet, Troepie Pienaar, JT Terblanche, Reginald Meintjies, G&G Varminting, Johan Opperman en Groenkrag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’