STEYTLERVILLE NUUS - Die byeenkoms van die Steytlerville-VLV op 9 April, met die tema ‘Uit ou goed, nuwe moed’, het ’n wye verskeidenheid onderwerpe gedek.
Nadat die geleentheid deur Erna Buber-de Villiers geopen is met skriflesing, het die dames ’n besoeker, Linda Maasdorp, verwelkom en ’n nuwe lid, Louisa Muller, met die aansteek van ’n vriendskapskersie ingelyf.
Hierna was drie besoekers aan die woord: onderwyseres Helein van Tonder en twee leerlinge van Kleinpoort Primêre Skool.
Helein, wat jare oorsee gewoon het, het vertel van die groot klem wat in sekere oorsese lande op herwinning geplaas word, veral lande soos Swede, Oostenryk, Taiwan, Wallis en Japan.
Swede gaan so ver om rommel aan te koop om dit te herwin, en in Japan is elke munisipaliteit self vir die sortering van vullis verantwoordelik.
Hier word mense beboet as hulle mors.
Die twee seuns het gedigte voorgelees en prente gewys wat gemaak is uit rommel wat op hul skoolgrond opgetel is.
Van Tonder het ook artikels wat van draad gemaak is, uitgestal. Hierdie artikels word gemaak deur ’n 14-jarige weeskind wat die fondse gebruik om homself te onderhou.
Die dames het van sy pragtig ontwerpte kameelperde, windpompe en engele gekoop.
In die afdeling ‘Snelvuursnippers’ het Cara Lategan kuns gewys waar blomme, groente en vrugte saam gebruik word.
Wilma Nelson het omvattend gesels oor die ster van Bethlehem - die geloofsverhaal, sterre wat weersomstandighede aandui, as gidse dien wat mense lei en lig verskaf, asook as onderwerp van wetenskaplike navorsing.
Susan Hayward het uitgebrei oor die vele gebruike van suurlemoene, insluitend as antiseptiese middel, lewersuiweringsagent en insekweerder.
In die blommekuns-afdeling het dames wat deelgeneem het, die tema ‘Van tuin tot tafel’ uitgebeeld. Hier is Zandra Hampson se rangskikking, ’n moderne “tuinrangskikking” met plante, vrugte en kruie, as die wenner aangewys.
Die dames is in ’n vrolike luim huis toe nadat die byeenkoms met ’n voorlesing uit Maretha Maartens se grappige boek, Vygies en ander Vreugdes, afgesluit is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’