GRAAFF-REINET NUUS - Die stemlyne is oop en inwoners van Graaff-Reinet word herinner dat hulle net tot 29 April om 12:00 geleentheid het om te stem vir Graaff-Reinet as Dorp van die Jaar.
Die dorpe waarteen Graaff-Reinet gaan deelneem is gisteraand op Kwêla bekend gemaak. Hulle is Nieu-Bethesda en Maclear.
SMS die woord Graaff-Reinet na 33157. SMS'e kos R1,50.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys en wen 'n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal 'n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
Daar sal ook 'n groot Kia Dorp van die Jaar-makietie in die wendorp gehou word met musiek, kos en hope pret vir die inwoners.
Inwoners van Graaff-Reinet het ook ‘n Local Challenge begin waar besighede mekaar uitdaag om te stem.
Chantelle Marais, eienaar van Karoo Park Gastehuis, het verduidelik: “Ons wil dit ook soveel pret as moontlik maak. Ek gaan byvoorbeeld R200 se stemme instuur en dan daag ek op Facebook die volgende besigheid uit om dit te ook te doen, of dalk selfs meer stemme as my besigheid te stuur.
"Die besighede en skole kan dan mekaar aanhits om soveel moontlik stemme in te stuur. Mense kan selfies neem en dit op Facebook sit, of hulle kan snaaks aantrek.”
Besighede wat ingestem het om deel te neem is Montego, Karoo Park Gastehuis, Botha’s, Profcon, GR Hardeware, Cypress Cottages, Union High, Van Wyk Theron, GBG en BuildIt.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'