NIEU-BETHESDA NUUS - Op Vrydag 29 Augustus is 108 senior vroue uit die Nieu-Bethesda gemeenskap by ’n spesiale funksie bederf met ’n heerlike middagete met nagereg en ’n vrugtedrankie ter afsluiting van Vrouemaand.
“Hierdie geleentheid is spesifiek gehou om ons bejaardes te huldig, en om ons waardering vir hulle diens aan die gemeenskap van Nieu-Bethesda te vier,” he raadslid Ricardo Smith gesê.
Bejaardes wat om gesondheidsredes nie die funksie fisies kon bywoon nie, het die ete tuis ontvang, waar die gemeenskap se dank en waardering aan elkeen persoonlik uitgespreek is.
Onskatbare waarde
“Ons vroue is vir ons gemeenskappe oneindig kosbaar, want moeders is kosbaar vir elke huishouding, skool, inrigting en gemeenskap,"’ het Smith in ’n onderhoud met Graaff-Reinet Advertiser gesê.
“Dorpe en stede is ook afhanklik van insette deur vroue, en ook in die regering is vroue van onskatbare ware.
Dis ook daarom dat die prediker in Spreuke 31 so ’n groot ophef oor die besonderse gawes van vroue gemaak het, want elke vrou brand haar lewenskers van beide kante om haar geliefdes, haar gesin, haar gemeenskap, haar werksgemeenskap, haar dorp, distrik en land te dien.”
Die doel van hierdie funksie was spesifiek om die bejaarde vroue te bedank en erkenning aan elkeen te gee vir hul rol in dié gemeenskap.
"Hierdie vroue is die groot bome wat skadu gooi oor die hele gemeenskap van Nieu-Bethesda.”
Veiligheid en gesondheid
Gassprekers vanuit departmente van polisie en gesondheid het die seniors toegespreek oor hul veiligheid en wenke gegee hoe hulle ekstra sorg aan die dag kan lê om gevaarlike situasies te vermy.
Die belang van voorsorg om gesondsheidsprobleme hok te slaan voordat dit lewensbedreigend word, is ook bespreek.
Na aanleiding van die in-diepte gesprekke wat na die tyd tussen verteenwoordigers van die departemente en senior burgers gevoer is, was dit duidelik dat beide sprekers ’n groot indruk gelaat het.
Dank aan rolspelers
Alle rolspelers wat bygedra het tot die sukses van die funksie word erken, met spesiale erkenning aan Everisha Kraai en die OuMense Program, en Sylvia Davids vir die gratis beskikbaarstelling van die versierings vir die lokaal.
Davids is ’n bekende in Nieu-Bethesda.
Hugene Williams word ook bedank vir sy bydrae tot die sukses van die funksie, en spesiale erkenning gaan aan die winkel, Saju en Andries Shop, vir sy ruim bydraes om elke senior burger in Nieu-Bethesda ekstra spesiaal te laat voel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’