SOMERSET-OOS NUUS - Die inwoners van Huis Silwerjare in Somerset-Oos is altyd opgewonde wanneer hulle hoor dat die Vroue-landbouvereniging kom kuier.
En Woensdag 2 Julie was dit weer so.
Somerset-Oos se VLV het opgedaag met sakke vol verrassings wat groot byval gevind het.
Die VLV-dames se verrassings was die resultaat van ’n projek wat nie 'n enkele stukkie van hul oorskietwol laat verlore gaan het nie.
Sorgvuldig het die flukse vroue standaardgrootte blokkies gebrei, in al die kleure van die reënboog.
Die bokse vol blokkies is daarna keurig uitgepak en toe is daar kombersies van gemaak.
Altesaam nege pragtige gehekelde/gebreide kombersies kon aan nege gelukkige inwoners van Huis Silwerjare oorhandig word.
’n Vindingryke stelsel is ontwerp om die besluit aan wie die kombersies moes gaan, te vergemaklik.
’n Nommer is aan elke inwoner toegeken en die nommers is in ’n bottel gesit vir ’n gelukkige trekking, wat deur Riëtte Lombard, bestuurder van Huis Silwerjare, behartig is.
Sommige van die inwoners was rustig in hul kamers toe die trekking gehou is en was uitsonderlik verras om ’n geskenk te kry.
“Pragtige, kleurvolle en warm kombersies is altyd welkom in hierdie koue weer, en die kombersies het regtig groot byval gevind en vreugde gebring,” vertel Jean Marie Gouws, sekretaresse van die Somerset-Oos VLV-tak.
Die takvoorsitter, Isabel Wilken, het aan almal teenwoordig die geskiedenis van die blokkiesbreiery vertel en verduidelik dat die versorging van bejaardes ’n VLV-sirkelprojek is.
Sy het ook ’n voorlesing gedoen oor die verskil tussen ’n oupa en ’n ouma.
Soos dit hoort, het die VLV-dames weer gesorg vir heerlike eetgoed en almal het dit saam met 'n warm koppie tee geniet.
Die VLV se blokkiesbreiprojek gaan voort in Sirkel Cradock, en ander takke lewer net so fluks kleurvolle blokkies.
Enigiemand wat lus is, is welkom om vir hul naaste VLV-tak blokkies te brei.
Maak net seker van die grootte van die blokkies wat benodig word. Hou daardie stywe, koue winterhande warm en brei blokke!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’