CRADOCK NUUS - Volhoubaarheid en selfonderhoud was onder die temas wat op 6 Augustus by 'n streeksvergadering van Solidariteit Helpende Hand (SHH) aangeroer is.
SHH Cradock was een van agt Oos-Kaaptakke wat besoek is.
Bykans 50 verteenwoordigers vanuit Cradock, Somerset-Oos en Hofmeyr het die oggendgeleentheid by The Palms in Cradock bygewoon.
Die spreker by die geleentheid, Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van SHH, het benadruk dat die organisasie strewe na ’n toekoms waar gemeenskappe saamwerk, want dit is sulke gemeenskappe wat groei.
Die enigste manier waarop ons die toekoms kan verander, is om een mens op 'n slag se visie en toekoms te verander, het hy gesê.
Opleiding is baie belangrik om dit te kan bereik, en hy het genoem dat 1 188 afgestudeerde studente vanuit SHH se Soltech en Akademia-opleidingskolleges in die afgelope jaar die wêreld ingestuur is.
Opgeleide individue word dikwels deur die buiteland opgeraap.
Volhoubaarheid
Nog 'n belangrike faktor wat hy aangeraak het, is volhoubaarheid.
Hy het genoem dat talle klein dorpies se inwoners almal van SASSA-toelae afhanklik is en dat dit die enigste geld is wat ooit in hul dorpe inkom.
Kinders uit so 'n agtergrond raak dikwels substansafhanklik.
Hy het lede aangemoedig om eerder strukture vir volhoubaarheid te skep as om aalmoese te gee, want aalmoese skep afhanklikheid.
“Geen sopkombuis verdwyn ooit weer nie.
Daar is eerder 'n drastiese toename in die afhanklikes.”
Weens die ontoereikendheid van regeringsbydraes, het hy gesê, moet ons elkeen die verantwoordelikheid opneem om strukture in ons gemeenskappe te bou waar ons na mekaar kan kyk.
“Om voort te kan gaan, sal ons moet leer om ons eie rande reg te draai.
Die bedelaar by die robot kry R300 per dag, en is heel moontlik substansafhanklik. Hoeveel geld mors jy?” het hy gesê.
Senior burgers
Noëth het ook die benarde situasie van bejaardes uitgelig.
Volgens hom klassifiseer hierdie bevolkingsgroep hul uitdagings in die eerste plek as eensaamheid, dan die behofte aan mediese versorging, derdens vervoer en vierdens geld.
“’n Gemeenskap se karakter word bepaal deur die sorg aan seniors en kinders. In arm gemeenskappe is daar ’n 61% behoefte aan bestuurslisensies. Help mense eerder vorentoe, en bewerkstellig welstand deur werksyn. Verlig omstandighede, verbreek bande wat mense terughou en voorkom swaarkry en seerkry. Afhanklikheidspatrone vorm van geslag tot geslag ... Armoede skep ook misdaad, en elke gemeenskap moet na hulself kyk. Elke dorp moet ’n plan hê, en organisasies moet saamwerk.”
Daar is vele vlakke van armoede, het hy gesê: fisiese armoede, geestelike armoede en kulturele armoede.
Al hierdie vlakke moet aangespreek word om armoede te verlig.
“Glo in die volgende geslag, glo in die toekoms. Moenie ’n hopelose einde aanhang nie, glo eerder aan eindelose hoop!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’