ABERDEEN NUUS - Raadslid Adriaan van Heerden het Saterdag 25 Februarie sewe van sy VF+ kollegas uit Gqeberha genooi om spesiaal vir Huis Aalwynhof se inwoners 'n Saterdagsamekoms in egte Karoostyl aan te bied.
Marlon Booysen, Krizlyn Britz, Lilian Mari Slabbert, Renier van Vuuren, Morné Britz, Louise Britz, Bill Harrington en Van Heerden het dit 'n onvergeetlike dag vir die inwoners gemaak. Van vroegdag is daar onder die koeltebome by die tehuis gekuier.
Van Vuuren het vir die inwoners gesing, 'n danspassie of twee is gemaak, die vure is aangesteek en sappige Karoolam is met slaaie en braaibroodjies bedien.
Staaltjies uit die verlede is uitgeruil en saam met die musiek het emosies omtrent hoogty gevier. Elke inwoner het 'n kniekombersie en geskenkpak ontvang. Gina de Beer, een van Aberdeen se bekendste en mees geliefde senior inwoners, het Van Heerden gevoelvol bedank vir die gebaar. Sy het gesê Van Heerden as leerling sal haar altyd bybly - en nie noodwendig omdat hy stil of gehoorsaam was nie.
"Ons eer ons grootmense vandag. Dit bly 'n voorreg om saam met hulle te kuier," het Van Heerden aangedaan gesê.
Marlon Booysen deel bederfpakkies uit.
Karoolam sissend op die kole. Foto's: Alex Lombaard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'