Update
JANSENVILLE NUUS - Hoërskool Jansenville het verlede Woensdag, 8 Februarie, weer sy deure oopgemaak nadat die skoolbeheerliggaam (SBL) en ouers ‘n ooreenkoms met die departement van onderwys bereik het oor die pad vorentoe rakende die tekort aan onderwysers.
Dit volg nadat die SBL en ouers die skool op 3 Februarie gesluit het en aangekondig het dat die skool nie weer sal oopmaak alvorens hulle ‘n skriftelike onderneming vanaf die onderwysdepartement oor die tekort aan onderwysers ontvang het nie.
Ten tyde van die sluiting was daar geen onderwyser vir gr. 4 nie, geen wiskunde-onderwyser vir gr. 8 en 9 nie, en geen toerisme-onderwyser of wiskundige geletterdheid-onderwyser vir gr. 10 en 12 nie. Aangesien die skool nie in ‘n finansiële posisie is om SBL-aanstellings te maak nie, was daar dus leerders wat op hierdie stadium glad nie onderrig ontvang het nie.
Die tekort het ook tot gevolg gehad dat die hoof van die skool 52 uit die 55 periodes per week onderrig moes gee en nie by ander take kon uitkom nie. Twee matriekonderwysers gaan albei boonop later hierdie jaar vir vier maande met kraamverlof.
Volgens Denver Wood, SBL-voorsitter, is die departement in kennis gestel van die situasie en is ‘n vergadering belê met die Oos-Kaapse lid van die uitvoerende raad vir onderwys (LUR), Fundile Gade, en uitvoerende distriksbeampte (UDB) in die Sarah Baartman-distrik, Chris Jaftha, vir 2 Februarie geskeduleer. Hierdie vergadering het egter nie plaasgevind nie omdat die LUR en UDB nie op die SBL se uitnodiging gereageer het nie.
Die SBL en ouers het toe die skool gesluit.
Die sluiting van die skool het groot opspraak gewek, veral omdat dit een van die min skole is wat in 2022 met ‘n 100% matriekslaagsyfer kon spog.
Samantha Graham-Maré, DA-LP, het kort na die sluiting ‘n dringende versoek aan die Oos-Kaapse LUR vir onderwys gerig dat departementele verteenwoordigers gestuur moet word om met die SBL te ontmoet.
DA-raadslid Mandy Deyzel het ‘n petisie vir bykomende onderwysers van stapel gestuur wat deur meer as 250 ouers onderteken is en hierdie petisie is ook na die kantoor van die LUR gestuur.
Daarna het Graham-Maré die aangeleentheid onder die aandag van die DA se skadu-LUR vir onderwys, Edmund van Vuuren, gebring wat nou namens die leerders van hierdie "akademiese baken van voortreflikheid" sal veg.
Intussen het die storie oor die skool se sluiting ‘n leser so geraak dat sy aangebied het om uit te help. Sy het genoem dat sy ‘n afgetrede onderwyseres is en in die interim as Engels-onderwyser sal optree. "My hart het gebreek, veral nadat ek gelees het van die skool se 2022 matriekslaagsyfer," sê sy.
Jerome Arries, ondervoorsitter van die SBL, glo egter dat die situasie nou onder beheer is. “Die onderhoude vir die posvlak 1 onderwysers is reeds afgehandel. Op Maandag 6 Februarie het ons onderhoude gevoer vir die gr. 4-onderwyspos en op Donderdag 9 Februarie het ons ook vir die toerisme-onderwyspos onderhoude gevoer," sê hy.
"Die uitslae van hierdie onderhoude is op 7 en 10 Februarie by die departement se kantoor in Graaff-Reinet ingedien. Ons wag nou net vir die amptelike aanstellingsbriewe vanaf die department."
Arries sê die SBL het nog nie weer kontak met die UDB gemaak nie omdat hulle hom kans gee tot more, Vrydag 17 Februarie, om terugvoer te gee.
Arries noem dat die SBL slegs die skool laat heropen het omdat daar aan hulle die magtiging gegee is om onderhoude te voer en aanbevelings te maak vir die aanstel van onderwysers.
"Volgens die skoolhoof het die UDB bevestig dat ons aanbevelings na die departement se Menslike Hulpbronne-afdeling verwys is," sê Arries. "Indien die aanstellingsbriewe egter nie binnekort uitgereik word nie, sal ons ongelukkig weer ons besluit om die skool te heropen moet herroep."
Vorige artikel: Hoërskool Jansenville se deure toe
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'