GRAAFF-REINET NUUS - Die bestuur van die Graaff-Reinet Kankervereniging het dié week hul dank uitgespreek teenoor 'n plaaslike onderneming wat deurentyd 'n bydrae lewer aan dié vereniging.
"Alhoewel daar baie individue en ondernemings in die dorp is wat ons help om fondse te in vir plaaslike kankerleiers - waarvoor ons geweldig dankbaar is - verdien Kamdeboo Supermeat beslis 'n plumpie vir die voortgesette manier waarop hulle dit doen," meen Hannatjie Pieterse van die plaaslike kankervereniging.
"Die slaghuis se personeel gaan al 'n geruime tyd uit hul pad om kliënte te versoek om 'n munt of twee in 'n blik ten bate van die vereniging in te gooi.
Die vol blik word dan keer op keer aan die vereniging oorhandig.
Ons kan dan die fondse gebruik om 'n kankerlyer vir die nodige behandeling te stuur. Dit is klein aanhoudende pogings soos dié wat op die ou einde ons deur dik en dun dra," meen Hannatjie.
Dank word ook uitgespreek aan die kliënte van Kamdeboo Supermeat vir hul gereelde bydraes tot dié blik.
Van die personeel van Kamdeboo Supermeat met die blik wat al telkemale deur die publiek met munte gevul is.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'