CRADOCK NUUS - Markstraat in Cradock was 'n miernes van bedrywighede tydens die Schreiner Karoo Skrywersfees van 19 tot 21 Junie in Cradock, waarby die 100-jarige bestaan van Afrikaans ook luisterryk gevier is.
Die fees was ekstra spesiaal omdat Cradock hierdie jaar ingeskryf het vir die Unesco Literêre Stad van 2025.
Boekvrystellings, voorlesings, vertellings, voordragte, werkswinkels en filmvertonings het die gaste van vroegdag tot laatnag vermaak en dan was daar ook spesiale hoogtepunte.
Lesers, skrywers, luisteraars, nuuswolwe, storievertellers en storieliefhebbers kon hul passie uitleef.
Vier jong stemme van Cradock, Kyra Lee Lazarus, Ineke van der Merwe, Anné Adam en Richelle Janse van Rensburg, was onder die talent wat voordragte gelewer het tydens die Avbob Digkunsprojek.
Kevin Davie het kom vertel van rotskuns, en Crystal Warren van die Amazwi Suid Afrikaanse Literêre museum het 'n praatjie getiteld "Preserving Olive" gelewer.
Tammy Southey, die bekende skrywer van die facebook blog "Sunshine Simplicities", het die gehoor geboei met haar borrelende bespreking oor "The Art of Writing".
Madeleine Bazil het kom vertel hoe om die natuur in digkuns uit te beeld, terwyl Elsabé Groenewald (voorheen van Graaff-Reinet Advertiser) haar ervaring as digter, skrywer en joernalis gedeel het.
Lisba Vosloo het haar dokumentêr oor Olive Schreiner vertoon en 'n gr. 11 leerder van Cradock Hoërskool, Junayda Abrahams, het betower met haar fluweelstem.
Die besoek aan Eierklip buite Cradock, asook 'n besoek aan die sarkofaag waar Schreiner begrawe is, en die uitmergelende "voorreg" om Salpeterskop in die Bergkwagga Nasionale Park te klim, was uitsonderlike geleenthede.
'n Staptoer deur die dorp het ook aan fotograwe en storiesoekers die geleentheid gebied om die lewe in Cradock vanuit 'n ander hoek te besigtig.
Nie alleen is hierdie dorp aan die Groot Visrivier ryk aan geskiedenis nie, daar is ook talle historiese landmerke wat 'n besoek werd is.
Jaco de Waal, eienaar van GEM Solutions in Cradock, het 'n besonderse talent om stories visueel oor te dra, en het sy passie met gaste gedeel.
As 'n bemarker was De Waal ook betrokke by die besigheidsplan vir Cradock se deelname aan die Unesco Literêre Dorp van die jaar.
Skryfkuns, en die wonder van woorde het natuurlik voorrang geniet en het deurgaans gehore geboei.
Talle idees het stories geword en gesprankel in die wonderlike segswyse van Afrikaans. Kreatiewe denke is tot die uiterste ontwikkel en talle Karoostories het die lig gesien.
Gaste van oraloor was beïndruk met die gasvryheid van David en Lisa Ker, asook Cherie Antrobus van Die Tuishuise en Victoria Manor, wat elke gas met ope arms verwelkom het.
Victoria Manor het in volle glorie gepronk en is maksimaal benut. Elke hoekie het die feesgees weerspieël en die hotel was beslis die plek om te wees.
Almal wat hierdie geleentheid bygewoon het, het met 'n nuwe insig en waardering vir elke kosbare Afrikaanse erfenis huiswaarts gekeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’