GRAAFF-REINET NUUS - ’n Inwoner van Huis Welverdiend, Ben Roos, het die woeste tuin oor die laaste paar maande getem en dit in 'n vrugbare groentetuin verander.
Leoné Mulder, bestuurder van die instansie het 'n hele klompie nuusbrokkies gedeel toe sy Graaff-Reinet Advertiser onlangs gekontak het.
"Ons inwoners kry nou daagliks kraakvars groente, uit ons eie tuin. Roos laat nie op hom wag nie, soos die een oes afkom en kombuis toe gaan, word die dooie ranke teruggewerk en die volgende saailinge word geplant. Ons kyk nie terug nie, maar ons kyk vorentoe en sien uit na skorsies, pikantrissies (peppadews), kersietamaties, soetrissies, eiervrugte en 'n heerlike verskeidenheid murgpampoentjies wanneer die somergroeiseisoen aanbreek. Vir nou is ons in die wolke met die bone, wortels, aartappels, uie en verskeidenheid kole wat ons deur die winter sal voed," vertel Mulder.
Maar Dominique en Eugene Delport van Cadbury weet dat mens nie van groente alleen kan leef nie - dis te vervelig, daarom het hul op 29 Mei, met bokse vol sjokolade vir al die inwoners opgedaag.
"Hierdie bederf was veral vir ons inwoners met soettande, ek het toe eers uitgevind dat die tandartse ook net soet valstande insit," lag Mulder.
"Ons het dié soetgoed verlede Donderdag, 30 Mei, saam met 'n sjerrie geniet toe die Kwêla-span ons kom besoek het vir die Dorp van die Jaar-opname."
Om saam te val met die vreugdes, en die besoek van die Homebrew Filmspan en die kuier van Kwêla, het die bestuur van Huis Welverdiend onder leiding van Pauline van Zyl, aan elke personeellid van dié tehuis 'n splinternuwe paar werkskoene gegee.
"Vir ons werkersspan was dié nuwe skoene 'n groot vreugde, want dit raak koud en dan wil ons werkers lekker dik, warm sokkies werk toe dra," vertel Mulder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’