GRAAFF-REINET NUUS — Dit is nie aldag dat 'n skool 'n enorme mylpaal bereik nie, maar die Narsingstraat Primêre Skool het met die aanvang van 2018 'n baie spesiale jaar ingegaan - die skool vier tans sy 30ste bestaansjaar.
Die skool is reeds besig om die talle werksaamhede wat dié geleentheid gaan vier te koördineer om die grootste mate van sukses te verseker.
Verskeie aktiwiteite soos 'n pretstap, burgerverkope, Mnr en Mej Narsingstraat-kompetisie ensomeer is reeds gehou, terwyl 'n sportdag vir 18 Augustus, debutantebal vir 8 September, reünie-naweek vir 21 tot 24 September, 'n dinee vir 12 Oktober, 'n gholfdag vir 20 Oktober en 'n kulturele aand vir 10 November nog op die kaarte is.
Alle oud- en huidige leerlinge, onderwysers, werkers en vriende is genooi om te deel in die vieringe.
VAN TOEKA TOT NOU
Die skool het 'n ryk geskiedenis waarop alle oud-leerders en die skoolbestuur baie trots is.
Dié skool het sy deure in Januarie 1988 geopen ná wyle Carolus Koeberg, die destydse LP van Visrivier, 'n pleidooi tot die onderwys-owerhede gerig het om 'n skool te bou met 'n koshuis wat die plaaskinders van die omgewing kon huisves.
Daar is gehoor gegee aan Carolus se versoek en is die skool met net agt personeellede, met Johnny Johnson as skoolhoof, geopen.
Die leerders, waarvan daar weinig min aan die begin was, was afkomstig van die naburige skole.
Nou - 'n volle 30 jaar later - is die skool met sy allemintige leerderstal van 1129 een waarop die hele Graaff-Reinet distrik, geweldig trots kan wees.
Tans gaan die skool van krag tot krag en die skool se bestuur is seker dat dit nog baie gaan bereik.
Narsingstraat se personeel en skoolbestuur het dit nog altyd ten doel gehad om net die beste vir sy leerders beskikbaar te stel en om hulle tot hul volle potensiaal te laat ontwikkel.
Die skool word goed bestuur, het getroue en hardwerkende onderwysers en 'n pligsgetroue skoolbeheerliggaaam wat meer as hul deel doen.
Die skool het oor die jare heen 'n groot getal oudskoliere opgelewer wat hul goed bekwaam het en waarop die skool geweldig trots is.
Daar is 'n baie goeie balaans wat gehandhaaf word tussen die akademie en sport van dié skool - die skool is vandag 'n gedugte teenstander op sportgebied en het veral al sy merk in atletiek, rugby en netbal gemaak.
Elton Jantjies (huidige Springbok), Dekado Jantjies (O.19 Springbok), Ricardo Grootboo (O.17 Springbok) en Benjamin Jaftha (SA Akademie-speler) is almal produkte van dié skool.
Verskeie ander provinsiale-spelers is ook al opgelewer.
Op akademiese gebied is die skool 'n staatmaker in die Graaff-Reinet onderwysdistrik. Die skool het al prokureurs (Lorraine Booysen, Glin Loggenberg), mediese dokters (Dr Warren Maya, Dr Eric Garoheb), 'n rekenmeester (Wesley Sondag), onderwysers (Christiaan Goliath) en vele presteerders in die sakewêreld opgelewer. Een van die skool se oudskoliere, Johnny Jansen, werk in die kantoor van die hoof uitvoerende beampte van VWSA in Uitenhage.
Die skool is geweldig trots op al sy oudleerders wat so goed doen sowel as die huidige leerders wat baie potensiaal toon.
Die skool se bestuur nooi graag die gemeenskap uit om die skool se 30ste bestaansjaar saam met hulle te vier deur die verskeie aktiwiteite, soos hierbo vermeld, by te woon en te ondersteun.
Belangstellendes kan die skool by 049 893 0449 skakel om meer inligting te bekom of om betrokke te raak.
Die hoofleiers wat die Narsingstraat Primêre Skool in die skool se 30ste bestaansjaar verteenwoordig is (agter) Bernard MacPherson (onderhoofseun) en Catherolene van Rooyen (onderhoofmeisie), (voor) Elnay Adams (hoofmeisie), skoolhoof Amos Grootboom en Jermaine September (hoofseun).
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'