MTATHA NUUS - Die bekamping van veediefstal bly ’n groot uitdaging, veral omdat dit dikwels in afgeleë areas geskied en deur georganiseerde netwerke georkestreer word.
Dit gebeur selde dat veediewe op heterdaad betrap word.
'n Onlangse sukses is egter op 10 Julie deur Kaptein Welile Matyolo, mediawoordvoerder van die kantoor van die Provinsiale Kommissaris van die Oos-Kaap, aangekondig.
Volgens hom is vier mans (26 tot 54 jaar oud) op Woensdag 9 Julie in ’n misdaadintelligensie-operasie deur SAPD in hegtenis geneem vir die besit van 10 vermoedelik gesteelde skape.
Die verdagtes, almal van die Manyosini-omgewing, is in die Ngcengane-omgewing aangekeer nadat hul Volkswagen Polo-sedan onklaar geraak het.
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle skape in die naburige Khambi-omgewing gesteel het.
Twee eienaars van die Khambi-omgewing het die skape wat in hul besit was, positief as hulle eie geïdentifiseer. Die polisie skat die vee se waarde op ongeveer R20 000.
Die verdagtes sal binnekort in die Mthatha-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde vee.
"Die intensivering van die stryd teen veediefstal is een van ons prioriteite en ons doen 'n beroep op alle gemeenskappe om nou saam met die polisie te werk om die plaag te bekamp," het die OR Tambo-distrikskommissaris, generaal-majoor Norman Modishana, gesê terwyl hy alle polisielede wat by die operasie betrokke was, geprys het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’