HOFMEYR NUUS - Hofmeyr Vroue-Landbouvereniging (VLV) het op 7 Mei by die Victoria Boetiek Hotel bymekaargekom, waar Marguerite Hattingh en Marjoli Coetzee hulle toegespreek het.
Marguerite, sameroeper van opvoeding, en ‘n boervrou van Groenfontein, op die grens tussen Hofmeyr en Tarkastad het die dames se kennis kom toets, en gevra: “Is jy slimmer as ‘n gr. 5-leerder?”
Die dames is in spanne ingedeel, en het ywerig meegeding. Coleen Traut, sekretaresse van Hofmeyr VLV, sê dat die dames toe darem slimmer was as die gr. 5-leerders.
Marjoli Coetzee het vanaf Geduldsfontein, buite Steynsburg, na Hofmeyr gereis om meer oor haar verwerkte skaapvelprodukte te vertel.
Coetzee het vertel hoe haar twee dogters kleintyd op skaapvelletjies geslaap het en dat sy die voordele persoonlik beleef het. Sy weet nou dat skaapvelprodukte natuurlike insulasie voorsien, en gemak waarborg.
Dit verhoed dat vogtigheid teen die vel kom, en bevat lanolien, wat dit sag op die vel maak. Skaapvelle is hipo-allergenies, duursaam en terapeuties wanneer dit gebruik word om slaapprobleme te oorkom.
Dit bevorder sensoriese integrasie waar kinders sensoriese terapie benodig. Skaapvelle verminder inflammasie, verbeter bloedsirkulasie, is anti-mikrobies, en is uitstekend vir baba’s se ‘tummy time!’
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’