CRADOCK NUUS - Die Vroue Landbouvereniging (VLV) se Sirkel Cradock het op 5 Maart sy jaarlikse konferensie by die Springvale-vakansieplaas buite Tarkastad gehou.
Die Tarkastad VLV het hierdie jaar as gasvroue opgetree.
Garvin Willemse, ’n lewensafrigter van GO Consulting, was die gasspreker en het oor die VLV Kaapland se tema, ‘Kleur jou lewe mooi’, gesels.
As aangenome kind het hy in 2010 sy biologiese ma begin soek. Hy het haar toe gevind, en kon haar vir drie jaar ken voor sy dood is.
Hy sê hierdie drie jaar het aan hom bewys hoe hierdie vrou se lewe deur haar skuldgevoel en denke nadelig beïnvloed was. “Sy het baie gesukkel om haarself te vergewe, al was dit die liefdevolste ding wat sy vir my kon doen.”
Willemse deel die volgende wenke met die vroue by die konferensie:
Hoeveel keer het jy al na jou lewe gekyk en net die swart kolletjie gesien? Jou fokus veroorsaak dat jy die pragtige grootste deel van jou lewe miskyk. Ignoreer die swart kol; sien die mooi.
Die Japannese pseudowetenskaplike, Masaro Emoto, sou woorde oor ’n houer water praat en die water dadelik vries, en dan onder ’n mikroskoop waarneem hoe die bevrore kristalle lyk.
“Die woorde wat gespreek is, was woorde soos liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid. En dan vrees, skuldgevoelens, haat, skaamte. Die eerste kristalle was pragtige, helder kristalle.
Die tweede groep woorde het misvormde, lelike, amper verminkte kristalle gevorm.
Ons liggame bestaan uit ongeveer 70% water.
Jou woorde het ’n direkte impak op jou selle.”
Jyself het die grootste invloed oor jou liggaam met die woorde wat jy spreek. Jou eie woorde raak jou meer as enigiemand anders s’n; beheer jou woorde. Jou interne dialoog beïnvloed jou psige en prestasie.
Wees opgewonde oor uitdagings.
Jou woorde is kragtig. Gebruik hulle tot jou voordeel.
Wees dankbaar vir die seëninge in jou lewe.
Gebruik jou woorde om jou lewe mooi in te kleur.
Dames se kennis word getoets
Ronell Herselman, uittredende voorsitter van die Tarkastad-tak, het vir haar item ’n vasvra gehou en die dames se kennis behoorlik getoets.
Toekennings
Die Kookhuis-tak het die meeste bekers gewen in onder andere die kunsafdeling, die borduurwerkafdeling en ook by die lekkers.
Hy deel die landboubeker met Somerset-Oos en verower ook die iets-uit-niets-beker. Sy weefwerk is ook tops, en hy ontvang die toekenning as algehele tak van die jaar.
Somerset-Oos se tak het die beker vir die meeste punte in gebak en gebottel verower, asook die kookkunsbeker.
Hy deel die landboubeker met Kookhuis, en sy blommerangskikkings wen ook. Somerset-Oos kry die wisselafdelingbeker, en die mees uitstaande artikel gaan aan Isabel Wilken, die sirkelpresident en ’n lid van Somerset-Oos, vir ’n kwilt wat syg emaak het.
Hofmeyr VLV se hekelwerk word met ’n beker beloon, en dié tak ontvang ook die naaldwerktrofee.
Hy wen ook die toekenning vir die verdienstelike tak wat die beste vordering getoon het.
Altesaam 109 kompetisieartikels is deur die VLV-lede ingeskryf, en die beoordeling is deur Rika Pienaar, die sirkelbeoordelaar, behartig.
Alida Zwiegers het die blommerangskikkings beoordeel, Lizma Schoeman, die bekende kunsskilder van Somerset-Oos, die skilderye, en Andries Klopper, ’n fotograaf van Somerset-Oos, die foto’s.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’