OOS-KAAP NUUS - Die Chris-Hani-distrik se wetstoepassingsagentskappe het Vrouemaand op Vrydag 1 Augustus afgeskop met padblokkades op die N6 by Komani en die R56 by Khowa.
Volgens die kantoor van die Provinsiale Kommissaris van die Oos-Kaap is die padblokkades gelei deur vroue van die SAPD Women in Blue, die SAPD Women's Network, verkeersbeamptes en lede verbonde aan die Voertuigmisdaadondersoekeenheid (VCIU), Gesins- en Kinderseksuele Oortredings (FCS) en Werknemergesondheid en Welstand (EHW).
Tydens hierdie operasies is voertuie en bagasie deursoek en liggaamsdeursoeking gedoen vir dwelms en ongelisensieerde vuurwapens. Boetes van R38 100 is uitgereik.
Pamflette is ook aan motoriste uitgedeel en bewusmaking van oortredings soos geslagsgebaseerde geweld, mensehandel, onwettige besit van vuurwapens en veediefstal, is gedoen.
Vroue in die distrik se bestuur het die vroulike beamptes geprys vir die uitvoering van 'n suksesvolle operasie.
Dit is die begin van talle operasies wat in hierdie maand deur vroue gelei sal word.
“As vroue sal ons gesag uitoefen en veiligheid vir almal waarborg. Vroue in wetstoepassing is gemotiveer deur hul bevelvoerders,” het kaptein Yoliswa Mgolodela, mediawoordvoerder van die Oos-Kaapstreek, gesê.
Die waarnemende distrikskommissaris, Brigadier Vukile Ntandane, het die beamptes wat die operasies uitgevoer het, geprys vir hul toewyding en die waardige uitvoer van hul pligte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’