KAROO NUUS - Die reën wat van Sondag 24 September tot Maandag 25 September in die DBNLM-distrik geval het was weereens 'n welkome gesig.
Ten spyte van waarskuwings deur die Suid-Afrikaanse Weerdienste op 22 September van swaar reën en ongure windtoestande, het sagte deurdringende reën uitgesak.
Die Advertiser het met 'n paar boere vanuit die distrik gesels en almal was dit eens dat hierdie 'n uitsonderlike goeie jaar was waarin daar ook tydens die winterseisoen goeie reëns ontvang is.
Jansenville-distrik
David Kinghorn van die plaas Klipfontein het teen Maandagoggend 34 mm reën ontvang.
Onder Soutpansnekberge
Dawie Jubelius van die plaas Grootfontein, net onder die Soutpansnekberge vertel dat hy al vir die afgelope sewe jaar gebukkend gegaan het onder die droogte maar dat die goeie winterrëen gesorg het dat daar 'n drastiese verbetering in die veld is. "Die afgelope twee dae se reën het lekker sag neergesak op die veld, wat ook 'n groot verskil gaan maak."
Murraysburg - Sneeuberge
Jan-Hendrik Swiegers, inwoner van Murraysburg, vertel dat Josias Cloete van die plaas De Vlei oor die 90 mm en Willem-Schalk Pienaar van Rooipoort oor die 100 mm gemeet het. Volgens Swiegers vloei hierdie reënwater direk in die Buffelsrivier in.
Klipplaat-distrik
Pieter Marais van die plaas Lovedale, sê hy het Dinsdagoggend reeds 47 mm reën gemeet. Sy twee seuns André op die plaas Thornleigh, het 55 mm en sy ander seun, Grant van die plaas Oatlands, het 45 mm gemeet.
Jaco Oelofse se plaas is aangrensend tot die Klipfonteindam en vertel hy dat hy op verskeie gedeeltes van sy grond tussen 55 en 65 mm gemeet het. Oelofse het ook by die dam gestop om 'n paar foto's te neem en vertel dat daar redelik water ingeloop het, maar dat dit nog nie teen die damwal stoot nie.
Voltooiing van Klipfonteindam
Volgens die September-maandverslag van Willem Safers, burgemeester van DBNLM-munisipalitiet, is die konstruksie van die Klipplaat-waterprojek byna afgehandel en gereed om amptelik oorgegee te word. Hierdie projek sluit in die boor van boorgate, die installasie van meganiese toerusting, 'n nuwe retikulasiepyplyn na reservoirs, die oprigting van nuwe staal-opgaartenks, 'n nuwe waterbehandelingsaanleg in Klipplaat, en die herstel van die kanaal na die Klipfonteindam.
Die Klipfonteindam het al redelik water ontvang, en loop daar steeds water in na die afgelope langnaweek se reën. Foto: Jaco Oelofse
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’