Update
GRAAFF-REINET NUUS - Raadslid Eldrige Ruiters van die DA is effe verward oor die tweede dagvaarding wat teen hom uitgereik is sedert hy onduidelike verkeerstekens in Aberdeen begin oorverf het.
Hierdie dagvaarding is op 19 November aan hom beteken en omdat hy geweier het om die R350 boete te betaal, moes hy Dinsdag 21 Januarie in die hof verskyn.
Volgens Ruiters het hy Dinsdagoggend met sy dagvaarding en 'n petisie van die gemeenskap by die hof opgedaag, net om te hoor daar sal geen hofsitting wees nie.
"Die ondermagistraat [aanklaer] het vir my gesê dat daar nie hof is vir die dag nie. Daar is net een hofdag per week en dit is nie vandag nie," het Ruiters Dinsdagmiddag gesê.
"Sy het ook gesê sy kan nie 'n saak op die hofrol sit op 'n dag wat daar nie hof is nie, en sy kan dit nie eens vir 'n ander dag opsit nie omdat die kennisgewing vandag se datum op het."
Volgens Ruiters het die munisipaliteit se wetstoepassingsvoertuig daar opgedaag toe hy die hof verlaat en op pad huis toe was.
Die beampte en die staatsaanklaer het in die hof ingegaan om die aangeleentheid te bespreek, maar daarna het die staatsaanklaer dieselfde as vroeër gesê.
"Ek beskou hierdie saak nou as null and void en sal maar wag om te sien wat die munisipaliteit se volgende move is," sê Ruiters.
Ruiters se eerste dagvaarding vir die beweerde ongemagtigde verf van verkeerstekens is op 27 September uitgereik, waarna hy op 5 November voor die hof moes verskyn.
Dit was ook weens sy weiering om die R350 boete wat aan hom opgelê is, te betaal.
Die saak is egter tydens hierdie hofverskyning tersyde gestel aangesien die staatsaanklaer nie die munisipale bywet waarop die klag gebaseer was, kon opspoor nie.
Ruiters het voortgegaan om die verkeerstekens te verf totdat hy die tweede dagvaarding ontvang het.
Twee van die munisipaliteit se wetstoepassingsbeamptes, vergesel deur polisiebeamptes as getuies, het die dagvaarding by sy huis in Lotusville aan hom oorhandig.
Hulle het hom ook gewaarsku dat 'n strafregtelike saak teen hom aanhangig gemaak sal word indien hy nie onmiddellik ophou verf nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’