GRAAFF-REINET NUUS - Dit is reeds bekend dat die sterftesyfer op die Oos-Kaapse paaie daagliks styg, en daarom het die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) se kommunikasiehoof, Simon Zwane, op 1 Januarie vanjaar bekend gemaak dat daar ingrypende pogings aangewend gaan word om padongelukke en sterftes in die Oos-Kaap te verminder terwyl vakansiegangers gereed maak om oor die volgende paar dae na die stede
en werkplekke terug te keer.
Die ingrypings sal die mobilisering van tradisionele leiers en die betrokkenheid van openbare vervoeroperateurs behels en sal poog om ongelukke en sterftes in elke distrik, met hoë ongeluk- en sterfte-statistieke, in die provinsie te verminder.
Die ontleding van noodlottige ongelukstatistieke, sedert die begin van die feesseisoen, het aan die lig gebring dat die Amathole-distrik in die Oos-Kaap een van die top tien distrikte is wat die grootste aantal ongelukke en sterftes op nasionale vlak ervaar.
Die distrik is een van sewe distrikte in die provinsie. Dit strek van Idutywa tot by Fort Beaufort en sluit dorpe soos Butterworth en Stutterheim in.
Statistieke het getoon dat noodlottige ongelukke in dié distrik deur openbare voertuie veroorsaak is, wat ten tyde van die ongelukke reeds lang afstande tussen die Wes-Kaap of Gauteng gereis het sónder genoeg rus.
Hulle het dikwels dae lank geen rus gehad nie.
Wetstoepassers en die Suid-Afrikaanse Taxiraad het opgemerk dat sommige bestuurders nie tydens spitstyd van aangewese gebiede in die distrik vertrek het nie en interprovinsiaal gereis het om passasiers op te tel en moeg was toe die ongelukke plaasgevind het.
Verkeer sal na verwagting weer van 1 tot 6 Januarie 'n hoogtepunt bereik en wetstoepassing sal die fokus op openbare vervoer en sigbaarheid verskerp.
'n Toegewyde span is in plek gestel om die implementering van die padintervensies en vordering te moniteer.
Die N9-roete deur Graaff- Reinet en verby Aberdeen is elke jaar ‘n uiterste hoë impakgevaarsone, veral wanneer openbare voertuie terugreis na Kaapstad waar die Oos-Kapenaars werk.
Van Aberdeen volg dié verkeer die R61-roete na Beaufort-Wes, oor Laingsburg na die Wes-Kaap, wat dan ook mettertyd ‘n oorbelading van verkeer dra.
Motoriste word daaraan herinner om hul roetes gepas te beplan en liefs snags alle roetes te vermy. Statistieke toon dat 37,6 persent van noodlottige ongelukke tussen 18:00 en 01:00 plaasvind.
Dit is ook wanneer die meeste voetgangers noodlottig getref word, omdat hulle nie sigbaar vir motoriste is nie, of omdat hulle op die ryvlak van stedelike roetes loop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’