CRADOCK NUUS - Die Etienne van Heerden Veldsoirée word weer van 20 tot 22 September in Cradock aangebied. Soos verlede jaar vind die ATKV-skryfskool tydens die Veldsoirée plaas.
Hans du Plessis sal skrywers van prosa begelei, terwyl Bernard Odendaal opkomende digters sal help.
Deelname kos R350, wat ook gratis toegang tot die gesprekke tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée insluit.
Groot name in die boekbedryf sal optree. Jaco Jacobs gaan oor kinderboeke praat en Ingrid Winterbach en Jayden Kukari kom gesels albei oor hul nuwe romans.
Nathan Trantraal, Tom Dreyer, Darryl David en Stefaans Coetzee ondersoek identiteit in hul eie skryfwerk en in dié van ander. Hans du Plessis sal sy navorsing oor Griekwa-Afrikaans met die gehoor deel. Dominique Botha, Johann Rossouw en Mpush Ntabeni sal gesels die rol van versoening, al dan nie, deur middel van die letterkunde.
Fanie Olivier, Vasti Roodt en Lynthia Julius vra of ernstige debat nog in ons moderne samelewing gevoer mag word. Ronelda Kamfer ondersoek ons letterkundige bande met lande in die noorde.
Burgert Senekal en Mercia Coetzee beskou tegnologie se rol in die lettere, terwyl Andries Gouws en Dietloff van der Berg ondersoek sal instel na teks se vermoë om te kan transformeer.
Izak de Vries sal vrae oor die rol van resensente stel, terwyl Clinton du Plessis, Bernard Odendaal en Etienne van Heerden uit hul eie werk sal voorlees.
Basil Mills, 'n omgewingskundige, sal op Sondag 22 September alle belangstellende deelnemers die veld inneem om onder andere die voetspore van Olive Schreiner na te speur.
• Die Veldsoirée vind plaas by die Victoria Hotel en Tuishuise in Cradock, asook die Buffelshoek Dirosie Lodge, die plaas waarop Schreiner se graf geleë is.
Besprekings kan by reservations@tuishuise.co.za gemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’