GRAAFF-REINET NUUS - DA-raadslid Elridge Ruiters is Dinsdag 19 November weer ‘n R350 boete opgelê omdat hy steeds voortgaan om onduidelike verkeerstrepe in Aberdeen oor te verf.
Twee van die munisipaliteit se wetstoepassingsbeamptes, vergesel deur polisiebeamptes as getuies, het die kennisgewing by sy huis in Lotusville op hom bedien en gewaarsku dat ‘n strafregtelike saak teen hom gemaak sal word indien hy die verfwerk nie dadelik stopsit nie.
Die tweede boete
Dit is die tweede keer wat Ruiters in die warm water beland omdat hy, volgens die munisipaliteit, nie die nodige toestemming het om die strepe oor te verf nie.
Die eerste dagvaarding is op 27 September teen hom uitgereik maar op 5 November tydens sy eerste hofverskyning tersyde gestel omdat die onder-magistraat nie die munisipale bywet waarop dit gegrond is in die hande kon kry nie.
Beamptes bring bywet saam
Híérdie keer het die beamptes ‘n afskrif van die betrokke munisipale bywet byderhand gehad maar Ruiters bevraagteken nou die oorspronkliheid daarvan.
“Kyk die verskil tussen die bylaws van Kouga en Beyers Naudé,” het hy uitgewys. “Beyers Naudé se bylaws het geen datum, Gazette nommer of kopiereg nommer nie.”
Hierdie inligting moet, volgens hom, op elke bladsy van ‘n munisipale bywet wees.
Nie van plan om te betaal nie
Ruiters het weereens beklemtoon dat hy geensins van plan is om die nuutste boete te betaal nie en dat hy homself eerder weer in die hof sal gaan verdedig.
Hy is steeds oortuig daarvan dat hy niks verkeerd doen nie omdat hy geen nuwe strepe verf nie maar slegs bestaande strepe, wat nie meer duidelik sigbaar is nie, oorverf.
Ruiters glo dat hy op grond van sy politieke verbintenis met die DA geteiken word. “Hierdie is ronde twee van Ruiters versus die munisipaliteit,” sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’