GRAAFF-REINET NUUS - Die rol van PowerVac, tans bekend as Pollution Control Services, word sedert November 2021 toenemend deur raadslede en die publiek bevraagteken.
Wie is Pollution Control Services?
Rioolverstoppings in Graaff-Reinet se hoof rioolpyplyn het die munisipaliteit destyds genoodsaak om 'n tender aan Pollution Control Services toe te ken. Hierdie toekenning is gemaak kort nadat twee werknemers van die Dr Beyers Naude-munisipaliteit se direktoraat ingenieurswese en beplanning in November 2018 in 'n noodlottige ongeluk by die rioolpompstasie in Van der Bylstraat in die nywerheidsgebied betrokke was. Ten tyde van die ongeluk moes 'n span van ses munisipale werkers, onder die toesig van 'n ervare loodgieter, 'n foutiewe rioolpomp regmaak.
Dit was iets wat ten minste een maal per maand gedoen moes word. Seun Scholtz het die rioolput binnegegaan met 'n emmer om dit skoon te maak sodat die res van die werkers toegang tot die foutiewe pomp kon kry.
Toe Scholtz nie binne die verwagte tyd teruggekeer het na die oppervlak nie, het Ashwell Japhta besef dat daar fout moet wees en in die rioolput gespring om hom te probeer red. Ongelukkig het nie een van die twee die insident oorleef nie.
Willowmore en Steytlerville
Voor die samesmelting van die voormalige Baviaans, Ikwezi en Camdeboo-munisipaliteite om die Dr Beyers Naude-munisipaliteit te vorm, was Willowmore en Steytlerville (Baviaans-munisipaliteit) verantwoordelik om hul eie suigtenktrokke, apparaat om rioolverstoppings skoon te maak.
Hierdie dienste is intussen deur Pollution Control Services oorgeneem omdat dit weens die Dr Beyers Naude-munisipaliteit se finansiële probleme al moeiliker geword het om die trokke in stand te hou.
Onbeantwoorde vrae
Pollution Control Services word hoofsaaklik bevraagteken op grond van die groot hoeveelhede tender afwykings wat goedgekeur word. DA-raadslid Ewald Loock, beklemtoon dat hierdie afwykings van die voorgeskrewe verkrygingsprosedures kommerwekkend is. Loock noem dat April en Mei 2022 se afwykings R1,9 miljoen vir hierdie twee maande alleen beloop het.
Daarbenewens het die begroting volgens hom vir sanitasie en riool vir die 2022/23 finansiële jaar met 56% gestyg waarvan 50% 'n eenmalige verhoging is vir Pollution Control Services se dienste en die stygende brandstofpryse is as verduideliking vir hierdie drastiese verhoging gegee.
Volgens Loock is oorsig ook 'n kommerwekkende kwessie.
"Aangesien Pollution Control Services 'n privaat maatskappy is en sanitasie en riool 'n kernfunksie van die munisipaliteit is, is oorsig van kardinale belang. Dit is egter nie duidelik hoe oorsig oor die maatskappy gedoen word nie. Die afwykingsverslag "deviation report" is nie aangeheg by die Section 52 Report vir Junie 2022 nie en die afwesigheid van hierdie verslag bemoeilik oorsig deur die raadslede," sê Loock.
Vroeër vanjaar was daar beweringe dat Pollution Control Services vir Dr Beyers Naude-munisipaliteit in Oktober 2021 vir die bedrag van R1,5 gefaktureer het en dat hierdie geld vir een van die politieke partye se verkiesingsveldtog gebruik is. By navraag het die betrokke party se woordvoerder aangevoer dat "die munisipaliteit die beste geplaas is om enige aangeleentheid wat verband hou met fakturering en betaling aan enige diensverskaffer te bevestig of te ontken", en ook verklaar dat die party nie daarby betrokke was nie, en dit dus ten sterkste ontken.
Die munisipaliteit het nie op Graaff-Reinet Advertiser se versoek om kommentaar gereageer nie. Die Graaff-Reinet Advertiser het ook hierdie bewering bevraagteken tydens 'n vergadering tussen die munisipaliteit en die Action Save DBNLM movement in April, maar die vraag het onbeantwoord gebly.
Pollution Control Services onttrek
Ná hewige kritiek deur DA-raadslede rakende die huidige situasie en die herstel van die suigtenktrokke, het die direkteur van infrastruktuurdienste, Bennie Arends, opdrag gegee dat die Pollution Control Services-trokke vanaf 1 September van die omliggende dorpe in die Dr Beyers Naude munisipale-area onttrek moet word. Dit sonder dat daar enige alternatief vir die aanspreek van rioolprobleme in plek is.
Sedertdien ondervind woonbuurte in Steytlerville ernstige rioolprobleme; riool het in die strate gevloei en 'n trok moes uit Gqeberha ontbied word om aandag aan die probleem te gee. In Willowmore ondervind die poskantoor en Zaaymans-garage alreeds probleme met oorvol riooltenke en gastehuise en woonhuise op beide dorpe hou asem op oor die situasie.
Loock het verlede week met die munisipale bestuurder, dr. Edward Rankwana, in verbinding probeer tree om die situasie te bespreek, maar Rankwana het nie hierop reageer nie.
"Hoe gaan rioolprobleme opgelos word en riool uit die strate gehou word noudat Pollution Control Services beveel is om te onttrek, terwyl die suigtenktrokke steeds nie herstel is nie?" vra Loock moedeloos.
'n Navraag is aan beide die Dr Beyers Naude-munisipaiteit en Pollution Control Services gerig en sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.
'We bring you the latest Graaff-Reinet, Karoo news'