NIEU-BESTHESDA NUUS - Pampoene van alle kleure en geure het by die Tot-Hier-Toe Padstal in Nieu-Bethesda opgedaag vir ’n Paasnaweek van pampoenpret en -plesier.
Hierdie jaarlikse gebeurtenis is ’n hoogtepunt op Nieu-Bethesda se kalender, en inskrywings van oraloor word elke jaar ontvang.
Chrissie Swarts, die breinkrag en organiseerder agter die Pampoenfees, vertel dat inskrywings hierdie jaar min was, maar dat dit nie afbreuk gedoen het aan die pret nie.
“Slegs ses groot pampoene het kom sit, en daar was vier rangskikkings van pampoene - altesaam slegs 27 pampoene - maar ons kon 385 gaste op ons terrein verwelkom.
Natuurlik het ons weer ’n woelige paaseierjag gehad, waar die kleingoed kon paaseiers soek,” vertel Swarts, eienaar van die Tot-Hier-Toe Padstal.
Die pampoene moes geweeg word en die personeel by die padstal moes bontstaan om die kilogramme en gramme neer te pen.
“Die wenpampoen het hierdie jaar al die pad vanaf Bloemfontein na Nieu-Bethesda gereis, nadat dit vroeër vanaf Centurion tot in Bloemfontein gereis het.
Daar was ook inskrywings vanaf Colesberg en Centurion, en dan het Nieu-Bethesda nie teruggestaan nie.
Ons plaaslike mense het ywerig deelgeneem. Bennie van der Merwe van Colesberg het die tweede swaarste pampoen ingeskryf,” vertel sy.
“Hier was die heel dag vrolike musiek op die werf, en kosstalletjies het die gaste van heerlike versnaperinge voorsien.
Ons het ook stalletjies met handwerk en-kuns by die fees gehad.
Plaaslike stalletjiehouers het soetgoedjies te koop aangebied.
Die plaaslik verwaardigde jenewer (gin) ook by ’n stalletjie beskikbaar was, het groot aftrek geniet.
Die Paas-Saterdagtradisie in Nieu-Bethesda het gekom om te bly, en hierdie was reeds die 11de fees by dié padstal.”
Die grootste pampoen het 396kg geweeg en was ingeskryf deur Alexander Annandale.
Bennie van der Merwe van Colesberg se pampoen het teen 343kg ingeweeg.
Die pampoen met die mooiste uitgekerfde snywerk was deur Elbe van Heerden ingeskryf, terwyl Sannetjie Janse van Rensburg die mooiste pampoenrangskikking uitgestal het.
Die Tot-Hier-Toe Padstal het die prys gewen vir die kleinste pampoentjie op die uitstalling.
Talle borge, veral vanuit Graaff-Reinet, het bygedra tot die sukses van die dag.
N9 spares, BKB, SPAR, Drommedaris (Herholdt), PostNet, Camdeboo Super Vleis en Die Winkel Nieu-Bethesda was betrokke.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’