CRADOCK NUUS - ’n Selferkende arachnofoob van die Cradock-omgewing het die nuwe jaar op ’n vreesaanjaende noot ingegaan nadat hy onverwags van aangesig tot aangesig met ’n spinnekop gekom het.
Boonop moes hy in afgryse gestaan en toekyk hoe sy gesin die agtpotige gedierte hanteer.
Johan Weitz vertel dat sy hele gesin op Oujaarsaand buite op hul stoep gesit het.
’n Volle 22 mm reën het oor die vorige paar dae uitgesak, tesame met ’n hewige haelstorm, en die gesin het die reëntjie wat op die aand uitgesak het, gesit en geniet.
“Toe ek by my voordeur instap,” sê hy, “toe sien ek hierdie massiewe spinnekop teen die deur, en ek deins geskok terug, tot my tienerkinders se groot vermaak.
Asof die skok van die spinnekop nie erg genoeg was nie, besluit ons dogter Leah om nadere ondersoek in te stel.”
“Pappa, dit is ’n doodgewone reënspinnekop, en dis die enigste groot spinnekop wat ek sal optel,” het sy gesê.
In sy wildste drome het hy dit nog nooit eers naastenby oorweeg om aan ’n spinnekop te vat nie, want hy is doodbang vir spinnekoppe sedert hy op 10-jarige ouderdom deur ’n bobbejaanspinnekop gebyt is.
“Leah het ’n gemsbokhoring gevat en die spinnekop die geleentheid gegee om daarop te klouter, en toe het sy dit ewe nonchalant op haar laat loop,” vertel die pa trots.
Kort voor lank het elkeen van die Weitz-tieners die reënspinnekop hanteer en op hulle laat loop, ten aanskoue van hul geskokte pa.
Die spinnekop kon darem ook sy avontuur met sy gesin deel nadat hy later heel onseremonieel onder in die tuin vrygelaat is.
Dalk vermy hy voortaan voordeure!
Meer oor die reënspinnekop
Volgens Wikipedia byt die wyfies van die gewone reënspinnekop (Palystes superciliosus, voorheen P. natalius) wel.
Die grootte van hierdie spinnekoppe, gekombineer met die geel en swart band aan die onderkant van die bene wat blootgestel word wanneer hulle in gevaar verkeer, gee hulle 'n vreesaanjaende voorkoms.
Die gewone reënspinnekop se byt is nie gevaarliker as 'n bysteek vir mense nie.
Dit veroorsaak 'n brandende sensasie, asook swelling wat vir ’n paar dae duur, maar herstel spontaan en volledig.
Dié spesies van jagspinnekoppe is inheems aan Suid-Afrika en kan 25 tot 30 cm lank word. Hul gunstelinghabitat is kreupelhout en savannabos en hulle kom hoofsaaklik in die Wes-Kaap en die oostelike dele van Suider-Afrika voor.
Hulle betree dikwels huise voordat dit reën, waar hulle jag maak op geitjies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’