CRADOCK NUUS - Die historiese warmwaterbron buite Cradock (Nxuba), die Cradock Spa, wat tans in ’n haglike toestand is, gaan binnekort ’n nuwe baadjie kry.
Danksy ’n langtermyn vennootskap tussen Inxuba Yethemba Munisipaliteit en die Daku Groep, gaan opgraderingswerk van R50 miljoen aan die spa en karavaanpark gedoen word.
Die visie is dat die ‘nuwe’ oord ’n lewendige gemeenskapsentrum sal wees eerder as ’n seisoenale oornagplek.
Nie net gaan die mineraalbronne in ’n welstandsterrein wat spa-terapie aanbied, omskep word nie, maar die opgeknapte terrein sal ook oor die fasiliteit beskik om groot geleenthede aan te bied.
Die terrein sal veelsydige openbare ruimtes bied waar familiebyeenkomste, troues, grootskaalse provinsiale konferensies en kulturele feeste aangebied kan word.
Deur die Cradock Spa te laat herleef, beplan die Daku Groep om die Oos-Kaap se toerismewaardeketting te omskep sodat reisigers die streek se hartland kan verken.
Die vooruitsig is dat die gemeenskap voordeel sal trek uit die vernuwe fasiliteit deur volhoubare werkgeleenthede wat in gasvryheid, geleentheidskoördinering, spa-terapie en fasiliteitsbestuur beskikbaar sal wees.
Die verwagte toename in besoekersverkeer en geleenthede sal die plaaslike toerisme-sektor stimuleer en geleenthede skep vir spyseniers, toeroperateurs, kunsvlytverkopers en vervoerdienste.
Om wêreldklas-lewering te verseker, het die Daku Groep ’n kernspan van professionele persone saamgestel.
“Dit is die hergeboorte van ’n landmerk,” het Xoliswa Daku, uitvoerende hoof van die Daku Groep, gesê.
“Deur ons natuurlike waterbronne en ruimtes te omskep, sal die bestemming meer besoekers na die Oos-Kaap lok.
Mense sal hier kan bymekaarkom en ontspan, terwyl ekonomiese groei die gemeenskap dryf.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’