GRAAFF-REINET NUUS - Néé, handwerk is nie net vir vrouens nie. Vra net vir Graaff-Reinet-inwoners Jonathan Williams (21) en Wilton Masimala (16) wat hulself handig maak by Hanna Makoba se New Horizons - 'n inisiatief wat werk skep in die gemeenskap.
Makoba vertel trots aan die Graaff-Reinet Advertiser dat Williams en Masimala veral potensiaal wys met die maak van bakkies en potjies uit telefoondraad.
Dié het hulle geleer by Elroy Mkomo, wat na 'n paar maande reeds groot bakke met indrukwekkende patrone op maak. "Dit is ontspannend," sê hy terwyl hy werk aan 'n potjie met oranje, blou en swart patrone.
Williams sê hy geniet dit om iets nuuts te leer en wil graag nog vaardighede aanleer. Masimala stem saam en sê die geleentheid beteken vir hom baie. Hulle het die vaardighede binne twee weke geleer.
Mkomo en Clinton Lamani het weer vinnig-vinnig geleer hoe om met 'n naaimasjien te werk. Binne 'n week het elk 'n netjiese sweetpakbroek met 'n voering gemaak het. "Ek wil die jeug betrek en wys dat seuns ook deel kan wees," vertel Makoba.
Sy bied nou gratis naaldwerkklasse aan werklose mense in die gemeenskap. Sy wil hulle ook graag leer kralewerk doen, en hoe om bakkies uit telefoondraad te maak, sodat hulle 'n verskeidenheid vaardighede kan aanleer. Sy leer mense ook hoe om sonder 'n masjien te werk, deur byvoorbeeld, laslappies te maak.
"Ons sal dan later die mense se produkte verkoop, sodat hulle ook 'n inkomste kan verdien," verduidelik Makoba.
Rochelle Blaauw en Cornelia Mvuka verbeter ook hul vaardighede by New Horizons. Blaauw maak reeds pragtige kralewerk met 'n Afrika-motief en Mvuka is 'n kenner as dit by oorpakke kom.
Werklose lede van die gemeenskap wat graag soortgelyke vaardighede wil aanleer kan Makoba kontak by 083 338 1722, of die werkswinkel op Asherville besoek.
Kyk hoe mooi. Hierdie bakkies is die eerste probeerslag van Jonathan Williams en Wilton Masimala.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'