RUBRIEK - Ek vertel Oom Klaas van 'n vriendin wat lyk asof sy sukkel. Met haar lewe. Met 'n terloopse ontmoeting sou 'n mens – met onbegrip van onbewus wees – haar beskryf as deel van die suksesvolle middelklas. En tog sukkel sy daagliks om soggens wakker te word en die dag aan te durf. Hoe gebeur dit?
"Jaaaa, dit klink soos pragtig, maar heeltemal gebreek," sê Oom Klaas.
"Kom ek gaan wys jou heeltemal gebreek lyk nie noodwendig fyn en flenters nie. Dit kan ook pragtig en heel lyk."
Ons stap tot by die ingangshekkie van Oom Klaas se groentetuin. Spoggerig – lyk natnuut; soos 'n miniatuur weergawe van 'n plaashek. Dit het 'n raam met geronde hoeke en lyk of dit van ysterpyp gemaak is. Binne-in die raam is horisontale drade van kant tot kant en van bo na onder is ook een... stewig.
Die rugkant van die hek het gewoonlik twee boutskarniere wat deur 'n hoekpaal gaan en vasgebout word. Die hek hang dan aan die oë van die skarnierboute.
Oom Klaas se hekkie is pragtig gitswart geverf, spog met 'n stewige, splinternuwe boutskarnier en is heeltemal oorgetrek met bypassende grys skadunet. Ek vertel hom die hek is pragtig.
"Hmmm, dankie. So lyk pragtig, maar heeltemal gebreek. Daai hek, oorgedoen en sag op die oog soos hy daar is, is heeltemal gebreek. Kan jy sien hy hang skeef? Maar dis niks nie – kyk mooi, dan sal jy sien die hek hang onderstebo en hy het net een boutskarnier. Onder is hy vas aan die hoekpaal met draad, want die ding is heeltemal gebreek."
"Die hek was fyn en flenters – uitmekaar geroes met geen skarniere nie. Was vasgemaak met draad. Ek haal hom toe af, sny die flenterstukke raam wat deurgeroes was, uit. Ry dorp toe om nuwe skarniere te koop en natuurlik het die helige dorp toe een enkele skarnier.
Maar die hek moet klaar en gehang word. So, ek maak toe maar so 'n treurige pasmaak boutskarnier as 'n tweede een, ryg hulle in en sweis die nuwe stukke pyp in waar ek die geroestes uitgesny het. Raam klaar, verf ek dit toe deeglik. Spoggerig, sommer vir kom kyk, né.
"En toe los ek die oortrek van die hek vir my ywerige vakleerling. Sien jy waste deeglike, netjiese werk hy gedoen het? Hmm, hek klaar oorgetrek, laat val die jongman die hek presies netjies op daai selfgemaakte boutskarnier en daar breek die ding stomp af – die ring om die hek, steeds om die hek, maar die bout is afgebreek – eenkant. Ek hou toe nog moed, want dis mos darem die boonste skarnier. Sweis, kan ek hom nie weer sweis nie, want dis mos nou oral verf en skadunet.
"Maar ek onthou toe van die goed wat ek sommer rotsvas noem (nie die regte naam nie). Werk vir alles, man… veral vir metaal. So ek rotsvas toe die bedryf aan mekaar. Pragtig. Wonderwerk. Tyd is min – die hek moet hang.
"Toe ek die volgende dag mos daai hek optel om hom dan nou te loop hang, tóé sal ek mos eers sien: die hek is verkeerdom oorgetrek. Die gekoopte, stewige boutskarnier wat aan die onderkant moet wees om die hek te laat werk, sit dan nou aan die bokant. Onthou, die gewig van 'n hek word deur die onderste skarnier gedra. Die boonste een kan maar liggewig – of gelap soos hierdie een – wees, want hy stabiliseer net die beweging van die hek.
"Maar my hek is nou onderstebo. As ek die hek omdraai dat die regte skarnier onder sit, dan is die hek agterstevoor en onderstebo. Dit kan doodeenvoudig net nie.
Hy moet nou gehang word met die groot, stewige skarnier bo in plaas van onder. Ek weet dis 'n gemors, maar ek kap aan, want die hek moet hang. Ek boor die gate... en dis toe ek daai gelapte skarnier begin vasdraai, dat hy weer breek soos hy gebreek het toe hy laat val is: tot niet.
"Ek het besef my keuses is: haal af en begin vers twee asof dit 'n flentershek is en daar nooit alreeds 'n voltooide vers een was nie. Of gaan ek nou maar aan met 'n-boer-maak-'n-plan, gee hom draad en 'n tang, want die hek moet hang.
"En daar staan die antwoord: draad as onderste skarnier. Daai stewige boonste skarnier beteken niks, man. Die ding moet onder wees. En ek kan nou maar kwaad wees omdat die dorp net een so 'n skarnier gehad het. Of omdat die hek op die kop van die dun bout geval het. Of omdat die hek verkeerd oorgetrek is. Sal mos niks aan die hek se hang verander nie. Want die hek is heeltemal gebreek; maak nie saak hoe mooi hy lyk nie. Ek moet hom afhaal, uitmekaar haal en hom oor bou.
"Dis hoe dit dikwels gaan met mense wat oënskynlik pragtige, netjiese lewens het. Pragtig, maar heeltemal gebreek. En dan hou hulle aan om te lap en plak en te boer-maak-'n-plan … terwyl hulle weet dit wat saakmaak, is eintlik alreeds fyn en flenters gebreek.
"Hoe dit gebeur het, gaan niks verander nie – die eerste tree is om self te besef dat waarna jy in die spieël kyk, is heeltemal gebreek en moet afgehaal en uitmekaar gehaal word. Dan kan jy die stukkend begin heelmaak. Vergeet van mooi – maak reg daar waar die gewig van die hek gedra moet word en die mooi sal self bykom.
"En nou moet jy eers loop, want ek moet moed kry om die hek te werk."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’