STEYNSBURG NUUS - Die 81-jarige Louisa Maryna (Poppie) Coetzee, vroeër van Hofmeyr, is die afgelope week in die Marais Steyn-huis in Steynsburg oorlede.
Poppie was welbekend, veral omdat sy by die destydse sentrale gewerk het.
Talle koshuiskinders, verliefdes, verloofdes en studente kan onthou hoe sy, en die ander persone op die sentrale, hul oproepe deurgeskakel en dikwels presies geweet het waar hulle opgespoor kon word.
"Vir ons as koshuiskinders was haar huis 'n heenkome waar daar altyd baie liefde beskikbaar was," vertel Lionel Pike. Hy het tot haar vertrek uit Hofmeyr graag by haar huis ingeloer om te groet.
Poppie was 'n bakster en kok van formaat en het graag gaste onthaal op heerlike geregte uit haar kombuis. Sy het gereeld blomruikers uit haar tuin uitgedeel aan almal wat 'n ruiker moes kry.
Stanley Knoetze sê hulle kon enige tyd by haar huis in Voortrekkerstraat stop om te groet wanneer ons deur Hofmeyr ry.
"Sy was vir almal in Marais Steyn-huis 'n kosbare vriendin en ek koester elke oomblik van onthou," vertel Jeannette McComb.
"By Marais Steyn-tehuis het sy graag daarvoor gesorg dat gordyne mooi hang, koper blink en het sy met groot liefde 'n pragtige tuin langs die eetsaal ingerig."
Ds. Marius Barnard het die roudiens vanuit die NG Kerk Hofmeyr waargeneem.
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'