CRADOCK NUUS - 'n Uitdaging wat 'n kerk aan sy lidmate gestel het, het vir tannie Poppie Jacobs van Michausdal, Cradock, laat besef dat sy 'n lekker inkomste kan maak uit haar jare lange stokperdjie.
Die kerk het sy lidmate uitgedaag om vir vyf maande lank elke maand 'n sekere bedrag aan die kerk te skenk.
Tannie Poppie, wat bekend is vir die smulleker gebak wat sy vir spesiale geleenthede in haar eie kringe voorsien, het hierdie 'n uitdaging met mag en krag opgeneem.
Sy kén van bak! Koeksisters, roosterkoeke en 'n verskeidenheid klein koekies uit tannie Poppie se kombuis word opgeraap sedert haar kleindogter, Nicole Steenkamp, haar gebak op die Cradock dorp-WhatsAppgroep begin adverteer het.
En danksy haar reputasie as baasbakster, maak tannie Poppie elke maand meer as die bedrag wat sy onderneem het om aan die kerk te skenk.
Tussen al die gebak deur sorg sy ook nog vir etes vir haar man, haar blinde suster en ’n kleinkind.
“Ouma het al vier hartaanvalle oorleef, maar sy gaan sit nie en rus nie - sy sit haar pilletjie onder haar tong en drink haar bloeddrukpille en dan bak sy weer dat die oond kreun,” vertel Nicole.
Toe Graaff-Reinet Advertiser laat Saterdagmiddag by tannie Poppie se huis in 51 Eugenestraat in Michausdal aankom vir ons onderhoud, is sy besig met haar tweede baksel koeksisters vir die dag.
“Jy kan maar enige tyd by my inloer, ek het net nie altyd tyd om te sit en kuier nie,” sê die gesellige klein vroutjie met die pragtig gevlegte grys hare, wat Vrydag 19 September haar 72ste verjaarsdag vier.
“My ouma het nie tyd om te sit en WhatsApps lees nie, en sy sukkel maar om terug te skryf, maar sy sal dadelik met ’n stemboodskap reageer as daar bestellings inkom,” sê Nicole.
Ek en my vriend gaan Vrydae dorp toe om bestellings te neem, en dan werk Ouma heel naweek en ons lewer af soos sy klaarmaak.”
Tannie Poppie sê sy gaan beslis nie stilsit wanneer sy haar onderneming aan die kerk nagekom het nie. “Dan gaan ek met my gebak vir my en my gesin sorg,” sê sy.
As jy in Eugenestraat afstap en ’n heerlike reuk van vars gebak oorval jou, dan moet jy weet dat jy naby dié gesellige kombuis is waar daar altyd ’n degie in die mengbak luier en waar jy altyd welkom is om in te loer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’