OOS-KAAP NUUS - 'n Beampte wat by die Graaff-Reinet SAPD werk, is skuldig bevind aan roekelose en nalatige bestuur en het 'n skulderkenningsboete betaal.
Hierdie geval is maar een van 12 polisiebeamptes met kriminele veroordelings wat tans in die Oos-Kaap dien - en dit is nie waar die skokkende statistieke eindig nie.
Volgens die Oos-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, is daar huidiglik 217 gevalle in die provinsie waar polisiebeamptes ondersoek word.
Benewens die Graaff-Reinetse beampte, is die volgende sake ook uitgelig in Nqatha se mediaverklaring op 20 Junie:
• 'n Polisiebeampte van Nelson Mandelabaai wat in 'n dissiplinêre verhoor skuldig gepleit het op aanklagte van gewapende roof, besit van gesteelde eiendom en die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen, het na 'n twee maande lange skorsing teruggekeer werk toe. Nqatha sê dat 'n dossier vir die gewapende roofsaak in Stormsrivier geopen is en dat die kriminele saak steeds aan die gang is.
• 'n Beampte wat in die kinderbeskermingseenheid by die Mount Road-polisiestasie in Nelson Mandelabaai gewerk het, is heraangestel by 'n ander polisiestasie.
• 'n Polisiebeampte wat by die Mount Road SAPD in Gqeberha werk, is skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstige liggaamlike leed aan te rig, en het 'n opgeskorte vonnis ontvang. Die beampte het hierdie maand teruggekeer na diens, maar is herontplooi na Kinkelbos SAPD.
• 'n Beampte in Kareedouw is skuldig bevind aan bedrog en 'n boete van R12 000 opgelê, waarvan R6 000 opgeskort is.
• Beamptes in Paterson, Tsolo en Kirkwood het gevangenes help ontsnap en het tronkstraf van tussen ses maande en 'n jaar ontvang.
• 'n Beampte in Mthatha het 'n skulderkenningsboete van R1 500 vir bedrog betaal.
"Vrae ontstaan oor dissiplinêre sake wat misdadigers toegelaat het om in posisies te bly waar wette afgedwing moet word, maar wat self oortree," het Nqatha gesê.
"Wie het hul dissiplinêre verhore gelei? Is behoorlike prosedures gevolg? Wie het hierdie uitkomste gemagtig?"
Die minister van polisie, Senzo Mchunu, het verlede maand in 'n antwoord op 'n parlementêre vraag gesê dat nog 'n polisiebeampte in die provinsie ontslaan is nadat hy skuldig bevind is aan korrupsie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’