GRAAFF-REINET NUUS - Plaaslike wapeneienaars is behoorlik warm onder die kraag oor die voorgestelde wysigings aan die Vuurwapenbeheerwet wat pas in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer is.
Dis malligheid, ondeurdag, onuitvoerbaar en maak 'n bespotting van die hele proses, is van die kommentaar wat Graaff-Reinet Advertiser moes aanhoor.
Die kern van dié konsepvoorstelle is dat geen Suid-Afrikaanse burger vorentoe meer 'n vuurwapen mag aanskaf om hom- of haarself te verdedig nie. Dus sal selfverdediging nie meer aangevoer kan word as 'n rede waarom 'n landsburger 'n vuurwapen wil besit nie.
Jagters en sportskuts, volop in Graaff-Reinet en omstreke, sal die enigste privaat persone wees wat voortaan wapens sal kan besit, indien die regering sy sin kry.
Maar die getal wapens wat hulle mag besit gaan ook beperk word. En wapenversamelaars sal glad nie meer 'n lisensie kan kry nie.
Word die nuwe voorstelle wet aanvaar, sal bestaande wapeneienaars, wie se wapens vir selfverdediging geregistreer is, hul wapens kan behou tot die lisensie verval. Daarná moet jou wapen aan die polisie oorhandig word vir vernietiging. Jy sal ook nie onder 'n ander kategorie - soos dié van 'n sportskut of jagter - kan aansoek doen in 'n poging om jou wapen te behou nie.
Johan Dorfling, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging en van Aberdeen, het prontuit aan Graaff-Reinet Advertiser gesê dié voorstelle is nie prakties uitvoerbaar nie. "Die SA Jagters behou hul stilswye, want ons regsmense bekyk die saak. Maar ek glo groot hofsake sal volg as die regering deurdruk met dié wysigings. Daaroor het ek geen twyfel nie.
"Verskeie ander verenigings, soos Gun Owners of South Africa (Gosa), en ander groot rolspelers, wat wapenmeienaars verteenwoordig, gaan nie die saak gelate aanvaar nie. Ons gaan dan hof toe."
Dorfling sê planne om weg te doen met lisensies vir selfverdediging steek, sedert 2015, kort-kort sy kop uit. "Maar ná protes sterf dit 'n stille dood. Ek het persoonlik verskeie gewere en 'n handwapen in my besit en ek is nie bereid om dit af te gee nie.
"Hoe gaan SA burgers - en dit sluit ons boere in - na hulself omsien en verdedig sonder 'n vuurwapen. Die polisie kan dan nie eens hulself beskerm nie."
Jacques Geyer van Boomsticks in Graaf-Reinet, beskryf die voorstelle "as malligheid, wat net geen sin maak nie. Dit wil voorkom of daar jag gemaak word op wetsgehoorsame burgers wie se adresse en kontakbesonderhede in die polisie se besit is, maar kriminele, wat nie altyd maklik opspoorbaar is nie, word met handskoene gehanteer.
"Ek hou 'n vuurwapen aan om my vrou en kind van 10 maande te beskerm. Ek sal my wapen ingee op voorwaarde dat die polisie my gesin 24 uur per dag sal beskerm en die staat ook kan waarborg dat alle wapens, kriminele s'n ingesluit, ingee word."
Johan Harmse van die Gemeenskapsveiligheidseenheid (GVE) in Graaff-Reinet sê hy is gekant teen hoe die proses gehanteer word en hy reken baie meer moet gedoen word om die wet "meer werkbaar" te maak. Hy beklemtoon dat die GVE in Graaff-Reinet en die groter Karoo baie goeie samewerking van die polisie af kry.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'