GRAAFF-REINET NUUS - Die Vermaakgesin van Suurfontein, tussen Hofmeyr en Molteno, het besluit dat die beste Nuwejaarsfees nie by swaarbelaaide, volgepakte strande gaan wees nie.
"Ons het besluit ons het mos ‘n plaasdam! Ons het die hele familie met sleepsels en aanhangsels genooi om op ons eie strand te kom kuier.
"Die plaasdam het lekker gestyg ná die reën tussen Kersfees en Nuwejaar. Daar was genoeg water vir die skiboot," vertel Christine Vermaak. "Almal het hul kamptoerusting en strandtoebehore gebring.
"Van groot tot klein het besluit om die dag feestelik te geniet! Mammas en Pappas het gehelp met die etes."
Baie Karooboere boer oor Kersvakansies, maar hul gesinne weet ook hóé om die heel beste uit só ‘n plaasvakansie te haal. "Glo my, terwyl die manne so by die waters was, is daar sommer besproeiingsake vir vanjaar bespreek en beplan."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’