CRADOCK NUUS - Daar is lank reeds uitgesien na Fanie Theron Pre-primêre skool se jaarlikse basaar.
Want dit is nie net 'n basaar nie, dit is 'n fees.
En ja, hierdie jaar was dit weer so.
As jy weet van Paasfees, dan moet jy jouself nou indink in 'n Plaasfees, want dit is wat Fanie Theron se basaar is.
Geen mens sal weet hoe die personeel by die skool die terrein in 'n egte, regte plaas kon omtower nie - kompleet met skape, varke en selfs 'n ponie.
En dan is daar hope pret, en almal geniet elke oomblik.
Die tafels is elke jaar oorlaai met die mooiste verpakte eetgoed, alles volgens 'n plaastema, en die ouers wat help, kry duidelike opdragte oor presies waarmee hulle moet help.
Op die plaas raak die kleinspan natuurlik nooit moeg nie - daar is genoeg soetgoed om energie te waarborg - selfs vir lank nadat die plaasbasaar klaar is!
Talle oumas en oupas het ook opgedaag.
Dis nou maar so, niemand mis die Fanie Theron-plaasbasaar nie, en die skoolhoof, wat self op 'n plaas grootgeword het, sorg dat alles in plek is vir treffende foto's.
Van die glimlaggende voëlverskrikker tot die blou trein wat deur 'n bloedrooi trekker gesleep word, verby die getekende lêhenne se neste waarheen "eiers" gegooi kan word, tot by die tannies in die kombuis wat stomende pannekoeke bak, verby groen-en-geel John Deere trekkers en pienk potpensvarke tot by plaastema-verpakte eetgoedjies wat te koop aangebied word, was hierdie basaar nie net 'n fees vir die oog nie, maar ook 'n fees vir die gees.
"Ons mis nooit die Fanie Theron-basaar nie, al is ons kleinkinders al klaar met die hoërskool," het 'n oupa en ouma wat met sakke goed motor toe loop, vertel, "want hier koop ons dat ons lekkerkry, en tuis gaan pak ons al hierdie plesiertjies uit op ons spensrak en elke keer wat ons 'n pakkie oopmaak herroep ons weer die fees en vrolikheid waarvan ons kon deel wees!"
Niemand het met leë hande of harte huis toe gegaan nie, en daar het niks op die tafels oorgebly nie.
Fanie Theron se personeel en hoof weet presies hoe om die kopers se sente in te win, en omdat dit vir húlle lekker is, kry elkeen wat die basaar bywoon genoeg vreugde om 'n hele jaar te hou, tot die volgende Fanie Theron-plaasbasaar!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’