CRADOCK NUUS - Die AB du Toit-saal het onlangs gegons van opgewondenheid toe Fanie Theron Pre-primêr hul jaarlikse konsert aangebied het – ’n gebeurtenis wat vir Cradock (Nxuba) en omliggende dorpe een van die hoogtepunte van die jaar is.
Hierdie jaar se produksie, Pinocchio, het met sy kleurvolle karakters, musiek en dans die gehoor betower.
Vir die 144 leerlinge van die skool is die konsert die absolute hoogtepunt van hul skoolloopbaan – en vir baie selfs van hul jong lewe.
Maande se oefening het vrugte afgewerp toe trompoppies, feetjies, kabouters, narre, vlermuise, bye en ander sprokiesfigure die verhoog met selfvertroue en flair betree het.
“Die saal was gepak, en ons kon 491 kaartjies verkoop,” sê Quené Beukes, mediawoordvoerder van die skool.
Met oorverdowende applous en trotse ouers wat saamsing, was die aand ’n fees van talent en gemeenskapsgees.
Oudleerders van jare terug het nostalgies op sosiale media gedeel dat hulle dieselfde rolle vertolk het.
Skoolhoof Karin Swart en haar personeelspan word geloof vir ’n puik produksie wat die hart van Cradock weereens met trots en vreugde gevul het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’