CRADOCK NUUS - Verdagtes in die wreede moord op twee inwoners van Pukwanestraat 6173, Lingelihle, Cradock, bly in aanhouding.
Clifford Bishop (38), Njabulo Cita (20), Meebisi Ndlebende (44) en Luthandi Dweba (29) is dieselfde dag in hegtenis geneem, na Siseko Tpakela (32) en Athenkosi Bomvana (31) omstreeks 4vm op 21 Julie voor hul brandende huis petrolbomme probeer ontwyk het, maar met klippe bestook is en met messe gesteek is.
Volgens Kapt Lariane Jonker, woordvoerder vir die Middelburg en Cradock-omgewing se polisie, het Cita as staatsgetuie teen die ander drie beskuldigdes gedraai en is vrygelaat.
Op 13 September is Bishop, Ndlebende en Dweba se borgaansoek suksesvol deur die staat teengestaan en hulle word in die Middelburg-gevangenis aangehou.
Die drie verdagtes het Vrydag 11 Oktober weer vlugtig in die Cradock-landdroshof verskyn. Die saak is tot 25 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.
Die Advertiser het die moordtoneel en oorledenes se familie op die dag van die moord besoek. Esther Tpakela en Mandlakazi Grimmis, die oorledenes se moeders, was erg in rou gedompel.
Grimmis het die nagmerrie gebeure in trane en met 'n gebroke stem weerlê. Volgens haar het die twee slagoffers gelê en slaap toe 'n groep onbekende mans haar seun en Tpakela se woning met petrolbomme bestook het. Sy vertel die huis het aan die brand geslaan en ten aanskoue van verskeie mense het hulle gepoog om die vlammehel te ontsnap. Sy sê hulle is daarna met klippe bestook en messe aangeval en vermoor.
Grimmis het die twee oorledenes as wetsgehoorsame jong mans beskryf en gesê hulle was nie kwaaddoeners of lede van bendes nie.
Mandlakazi Grimmis in skok oor haar seun, Athenkosi Bomvana, se dood.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'