GRAAFF-REINET NUUS - Adjudantoffisier Majola Nkohli, mediawoordvoerder vir die kantoor van die Oos-Kaapse polisiekommissaris, sê dat die Graaff-Reinet-streekhof Frank Barends (53), Mannetjie Neels Chaka (50) en Brandon Herriot Lamont (48) op Maandag 17 Maart gevonnis het vir tot twee jaar gevangenisstraf of ’n boete van tot R150 000 vir die onwettige besit en/of beheer en/of vervoer van perlemoen.
Vroeër die dag het die hof ’n pleitooreenkoms met die Staat aanvaar, waarin die beskuldigdes ingestem het dat hulle omstreeks 18:20 op 2 Mei 2023 in twee voertuie, ’n blou Toyota Camry en ’n goue Porsche met ’n sleepwa, op die R75 op pad Jansenville toe was.
Die polisie het die twee voertuie afgetrek en deursoek, en altesaam 9 398 eenhede perlemoen ter waarde van R1 057 360 gevind.
Die drie beskuldigdes is soos volg gevonnis:
- Barends: ’n R150 000-boete of 24 maande gevangenisstraf, waarvan R50 000 of agt maande vir vyf jaar opgeskort word op voorwaarde dat hy nie aan ’n soortgelyke aanklag gedurende die tydperk van skorsing skuldig bevind word nie.
Hy word ook gevonnis tot 12 maande gevangenisstraf of ’n boete van R2 000 op ’n aanklag van bedrog.
- Chaka: R75 000 boete of 18 maande gevangenisstraf, waarvan R25 000 of 10 maande vir vyf jaar opgeskort word op voorwaarde dat hy nie aan ’n soortgelyke aanklag gedurende die tydperk van skorsing skuldig bevind word nie.
- Lamont: R100 000 boete, of 24 maande gevangenisstraf, waarvan R50 000 of 12 maande vir vyf jaar opgeskort word op voorwaarde dat hy nie aan ’n soortgelyke aanklag gedurende die tydperk van skorsing skuldig bevind word nie.
Al drie beskuldigdes is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens of ammunisie te besit, ingevolge die Wet op Vuurwapenbeheer 60 van 2000. Die Porsche is ook aan die Staat verbeur.
In ’n ander saak is Nathan Zealand (34) op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hy op Dinsdag 11 Maart vlugtig in die Graaff-Reinet-landdroshof op aanklagte van onwettige besit, en/of beheer en/of vervoer van perlemoen verskyn het.
Hierdie saak is tot 9 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’