GRAAFF-REINET NUUS - Wetstoepassers het verlede Donderdag toegeslaan op Friendly Halaal Fisheries in Graaff-Reinet, nadat die publiek klagtes in verband met onhigiëniese toestande by die eetplek aangemeld het.
Senior wetstoepasser, Lee Jafta, sê lede van die verkeersdepartement, wetstoepassing, die gesondheids-departement, brandweer en SAPD het op die winkel toegeslaan en op onaanvaarbare toestande afgekom wat die gesondheid van die publiek in gevaar stel.
Volgens Jafta is bederfbare produkte gekonfiskeer asook potte waarin voedsel voorberei is, wat gesondheidsgevare vir klante inhou.
Die winkel is gesluit en alvorens die eienaars nie aan die wetlike vereistes voldoen nie, sal dit gesluit bly.
Blitsoperasies word tans landswyd uitgevoer om winkeleienaars te verplig om aan gesondheidstandaarde te voldoen om verbruikers te beskerm.
Talle kinders dwarsoor die land het die afgelope tyd gesterf of siek geraak na hulle produkte by huiswinkels gekoop het of kos by die skool geëet het.
Van die kombuisware wat gekonfiskeer is tydens 'n blitsoperasie by Friendly Halaal Fisheries in Graaff-Reinet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’