GRAAFF-REINET NUUS – Op Saterdag, 25 November, vier ‘n welbekende Graaff-Reinetter ‘n baie spesiale mylpaal.
Catharina Magdalena Green, of Ouma Tina soos almal haar ken, is op 25 November 1917 in die Aberdeen-distik gebore – die tweede oudste van nege kinders, waarvan een die bekende boeremusiek legende Dirk Fourie is.
In 1938 tree sy in die huwelik met Daniel Johannes Green en verhuis hulle in 1958 na Bloemfontein waar hulle vir ongeveer 14 jaar woonagtig is.
In hierdie tydperk werk sy by die Nasionale Hospitaal asook by die Pelonomi Hospitaal.
Na hul terugkeer na Graaff-Reinet werk sy by die Middellandse Hospitaal.
In 1975 maak sy ‘n verandering en begin sy by Checkers werk. Sy werk daar vir ongeveer 10 jaar en skuif toe oor na Shoprite. Sy was daar werkagtig tot met haar aftrede op die ouderdom van 79, waarna sy nog ‘n paar jaar ‘gecasual’ het.
Drie jaar gelede het sy haar been verloor as gevolg van diabetes, maar Ouma Tina laat haar nie onder kry nie.
Op die ouderdom van 99 woon sy nogsteeds in haar eie huisie.
Sy het drie kinders (waarvan twee oorlede is), agt kleinkinders en twaalf agterkleinkinders, waarvan die jongste van die geslag, Dominique Kuhn wat nou vyf word, bevoorreg genoeg is om saam met haar ouma te verjaar.
Haar familie voel dankbaar, trots, bevoorreg en geseënd om so ‘n wonderlike vrou in hul lewens te hê en dat hulle haar 100ste verjaardag volgende Saterdag, 25 November, saam met haar te kan deel.
Sy stel ‘n wonderlike voorbeeld vir almal in haar lewe en is sy ‘n wonderlike rolmodel vir almal in die familie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'