STEYNSBURG NUUS - Ouetehuise en ooievaarstees is gewoonlik nie in dieselfde sin, of berig nie, maar die Marais Steyn-tehuis in Steynsburg het die teendeel bewys, toe hulle op 26 Februarie, in die maand van liefde, sommer 'n driedubbele ooievaarstee gehou het vir drie pienkvoete wat in April hul opwagting gaan maak.
Sr. Coyla Southey, van die tehuis, is hul eersteling te wagte, en stafverpleegster Desi Anderson gaan die ouma van 'n tweeling word, hulle was oorweldig met liefde vanaf Marais Steyn se inwoners.
Een van die breiprojekte, na aanleiding van 'n reusewolskenking, was babaklere vir suster Southey se baba en stafverpleegster Anderson se tweelingkleinkinders.
Grietjie, die gebreide skapie, van tannie Ruth Donnian, het groot aftrek geniet. ’n Besondere netjiese pakkie deur tannie Martie Bisschoff, wat 91 jaar oud is, het ook onder die geskenke getel.
Dit was dan ook by die geleentheid wat Marais Steyn-tehuis hul waarnemende suster, Yolisa Gillman kon voorstel terwyl suster Southey met kraamverlof is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’