KAROO NUUS - Haas net so ikonies soos die kerktoring van die Aberdeen NG Kerk, is die pyporrel en die orrelis wat dit vir die afgelope 16 jaar bespeel het.
Tineke Anderson, wat op 27 April vanjaar haar 82ste verjaarsdag herdenk het, het Sondag 27 Augustus vir oulaas agter die orrel ingeskuif vir begeleiding van die erediens.
Die gemeente het gedy in haar laaste begeleiding en het op gepaste wyse van haar afskeid geneem ná afloop van die diens.
Boonop het Anderson vir oulaas die laaste lied, Laat Heer U seën op haar daal op die outydse traporrel neffens die preekstoel begelei. Sy het gesaghebbend agter die traporrel ingeskuif en die vermoeiende trappe doelgerig ritmies getrap terwyl haar behendige vingers die effe stram klawers vir oulaas die kerk met strelende klank gevul het. Eweneens verrassend is die feit dat Anderson 'n kranige orrelis is sonder dat sy enigsins note kan lees.
Danie Pienaar, self 'n lewende legende in Aberdeen, het 'n bedankingstoespraak namens die lidmate gelewer.
Sy bedanking waarin hy emosioneel gesê het: "Vandag is dit een van daai dae wat die Here my sal moet help, want ek gaan baie-baie hartseer wees," het getuig van opregte waardering vir en koestering van Anderson se onbaatsugtige toewyding oor die jare. Pienaar het ook 'n voorlesing gedoen uit Anderson se digbundel, Ons kleurvolle bestaan, oor haar ervarings as kleuter tydens die Tweede Wêreldoorlog in Nederland waar sy gebore is. Alhoewel nog in sy eerste jaar van bediening in die NGK Aberdeen-gemeente, was ook ds. Clifford James as leraar van die gemeente, se waardering groot en opreg vir Anderson se toewyding.
Tineke Anderson verhuis binnekort permanent na haar dogter in KwaZulu-Natal en Aberdeen se beste wense vergesel haar.
Kranige orrelis, Tineke Anderson in aksie. Foto's: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’