GRAAFF-REINET NUUS – 25 jaar gelede was dit voorbladnuus dat die Nqwebadam leeg is en dit lyk asof die dorp weer dieselfde krisis in die oë staar.
Wat ook steeds dieselfde is, is dat mense nou ook nie besef hoe ernstig die situasie is nie.
“Dit is asof mense nie bekommerd is solank hulle die kraan kan oopdraai en daar water uitkom nie,” sê 'n woordvoerder vir die munisipaliteit, Leolynn Smith, aangaande water en die droogte in Graaff-Reinet en omgewing.
Met die huidige droogte het die dam se vlak met ongeveer 'n persent 'n week gedaal oor die pas afgelope jaar.
Die damvlak staan tans op 11.22% wat tot gevolg gehad het dat watervoorsiening vanuit die dam deur die munisipaliteit gestaak is aangesien 'n groot gedeelte hiervan nie gebruik kan word nie as gevolg van die slik en modder.
Dit beteken dat daar onlangs na die gebruik van boorgate oorgeskakel moes word.
Hierdie aksie noodsaak alle verbruikers in die munisipaliteit om asseblief by die waterbeperkings te hou en om water baie spaarsamig te gebruik.
As gevolg van die uitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar rakende die voorsiening van genoegsame water aan al die woonbuurte van Graaff-Reinet sal die voorsiening van water van tyd tot tyd onderbreek word en Graaff-Reinetters kan verwag dat uitdagings aangaande watervoorsiening voortdurend sal wees.
Inwoners wat in hoër gebiede geleë is, moet verseker dat hulle altyd emmers met water byderhand het, aangesien water nie altyd geredelik beskikbaar sal wees nie.
Die munisipaliteit oorweeg tans selfs meer drastiese stappe soos die rantsoenering van water.
Inwoners word versoek om alle waterlekkasies onmiddellik te rapporteer en ook uit te kyk vir enige lekkasies van hul toilette (water wat voortdurend van die reservoirbak na die toiletbak loop).
Die munisipaliteit behou, ingevolge die bepalings van Verordening nr 1628 van 20 November 2006, die reg om waterbeperkings in te stel om water te bespaar.
Lees 'n vorige nuusflits | Graaff-Reinet: Waterkrisis 'n realiteit
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'