KAROO NUUS - Albert Myburgh (29), 'n merino- en wildboer van duskant Noupoort, is lief vir die Karoo. Sy ideale afspraak is 'n kersligete in die veld, "onder die donker maan en die Karoo-sterre."
Maar die naaste dorp aan Myburgh is sowat 30 km ver; geleenthede om metgeselle vir hierdie afsprake te ontmoet is min. Om sy kans vir ware liefde te verbeter het Myburgh ingeskryf vir die 12de reeks van die gewilde TV-program Boer Soek 'n Vrou.
Hy het nie genoeg briewe van moontlike pasmaats ontvang om op die reeks te verskyn nie, maar hieroor is Myburgh nie spyt nie. "Alles gebeur soos dit moet gebeur."
Volgens Myburgh het hy wel verskeie oulike briewe ontvang, en het hy reeds met van die skrywers kontak gemaak. "Die meisies het regtig moeite gedoen, ek kan nie net een brief kies wat uitgestaan het nie."
Vroue het, onder andere, ook vir hom wyn gestuur. Myburgh deel dat sy hart wel nou net by een meisie is, maar oor dié verhouding wil hy nie nou meer verklap nie. En waarheen sal hy hierdie spesiale vriendin neem vir 'n afspraak? 'n Kersligete in die Karoo, natuurlik.
Vinnige vrae vir boer Albert:
- Een woord om jouself te beskryf: "Opreg."
- Iets wat niemand van jou weet nie: "Nee, nou vra jy my vas."
- As jy 'n super power kon hê: "Sou ek gedagtes wou lees."
- Gunsteling ding van die Karoo: "Die stilte."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'