HOFMEYR NUUS - Juan Venter, karooboer uit die Hofmeyr-distrik, en produk-adviseur by die Nasionale Wolkwekers Vereniging in Middelburg, het op 5 Julie 'n kursus in Alicedale in die Hofmeyr-distrik aangebied, waar Niel Viljoen teoretiese en praktiese opleiding in ongediertebeheer aangebied het.
Hy deel mee dat dit belangrik is om te besef dat dit die produsent se verantwoordelikheid bly om sy vee teen ongediertes, siektes en enige faktor wat tot nadeel van sy diere kan wees, te beskerm.
Roofdiere is onontbeerlik in die bio-sisteem en speel ’n belangrike rol om ‘n gesonde balans in die natuur te handhaaf. Sommige van die roofdiere is ook goeie opruimers en aas op karkasse van wilde diere en vee.
Elke boer in Suid-Afrika is bewaringsbewus en boer met die doel om vir die nageslag ‘n besigheid op te bou, wat volhoubaar en meer winsgewend sal wees en om die natuurlike hulpbronne te bewaar en te verbeter.
"Met die ekonomie van skaal wat boere druk, arbeidswetgewing en die feit dat boere prysnemers is, is dit belangrik dat boere moet toesien dat elke vroulike dier op sy plaas moet lam en wanneer die lammers gebore word, toe te sien dat hulle in die kudde opgeneem kan word as vervangings-ooie, of bemark moet word om inkomste te genereer."
Een van die grootste probleme met verliese van lammers wat wel lewend gebore is, is roofdiere en in die Oos-Kaap veral rooikatte en rooijakkalse.
Bogenoemde faktore maak dit noodsaaklik dat boere en hulle werkers opgelei moet word om hierdie probleme op die regte manier aan te spreek. Daarom gebruik die NWKV vir Niel Viljoen om boere en werkers opleiding te gee rakende die gebruik van vangysters en hokke om die probleem-ongediertes te bekamp.
Die kursus is op die plaas, Alicedale van David en Oscar Lord, in die Hofmeyr-distrik, aangebied en die hele spektrum van roofdierbestuur is behandel, ook die gebruik en stel van vangysters en hokke. Daar is ook heelwat tyd spandeer aan die praktiese kant van kalibrasie van ysters en die fisiese stel van die vangysters. Kursusgangers moes elkeen self ‘n yster stel en Niel het dan elkeen raad gegee en gewys, waar daar verbeter kan word.
"Daar was ‘n geweldige aanvraag vir so ‘n kursus en die boere en hulle werkers, het in groot getalle opgedaag om meer te leer van die groot probleem, waarmee ons kleinveeboere, te kampe het op ‘n daaglikse basis," sluit Venter af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’