Video
KAROO NUUS EN VIDEO - Twee Oos-Kaapse skeerders, Tienie du Plessis en Marius Klopper, het korte mette gemaak van die Suid-Afrikaanse rekord in skaapskeer. Die rekordpoging het deel gevorm van die Merino Makietie die afgelope naweek by Karel Theron Laerskool in Middelburg en is die eerste Suid-Afrikaanse tweemanrekord.
Tienie het kort na die rekord aan Graaff-Reinet Advertiser vertel dat hy "eintlik nog steeds" voltyds buite Steynsburg boer en dat hy groot moeite doen om skeerfiks te bly.
1 011 skape in 8 uur
Die rekord gaan oor die aantal skape wat binne agt uur geskeer word, maar is soos 'n gewone skeerdag opgedeel in vier skofte van twee ure elk, met 'n halfuur teebreek en 'n uur etenstyd.
Die twee manne het om 07:30 begin skeer en die laaste skaap is 17:30 onder die knipper deur. Altesaam 1 011 skaap is in die agt ure geskeer. Marius het 505 skape geskeer en Tienie 506, een skapie meer. Dit was albei skeerders se persoonlike bestes en het hulle nog nooit meer as 500 skaap elk in 'n 8-uur skeerdag ingepas nie. Net Merinolammers is geskeer en bitter min skeerders kon dit al regkry om 500 in 'n dag te skeer.
Hard geoefen
Die twee skeerders berei hulself geestelik en fisies voor en Tienie het reeds in Februarie 'n rekord aantal skaap geskeer, terwyl Marius sowat sewe maande se effektiewe voorbereiding agter die rug het. Beide spandeer ook baie tyd in die gimnasium buiten die daaglikse harde werk in die skeerhuis en op die plaas.
"Ons elkeen probeer soveel as moontlik skeer, al is dit soms 'n uitdaging, want ek wil ook nog voltyds boer," sê Tienie. "Ek het ook nog ander belange soos die skeerdiens wat ek bedryf. Alles vat tyd en ontneem my dikwels die geleentheid om vol dae in die skeerhuis deur te bring. Die rekordskeer was 'n uitdaging."
Marius bedryf vir agt tot nege maande van die jaar 'n skeerdiens in Nieu-Zeeland en sê dit alleen was goeie voorbereiding vir die uitdaging.
Skeer as 'n sport
Beide mans het met hartklopmonitors geskeer, en gemiddeld 800 kalorieë per uur verbrand. Skeer is dus duidelik uitstekende oefening.
"Oor die agt skeerure het ons teen 80% van ons hartkapasiteit gefunksioneer. Dit is redelik uitsonderlik wanneer dit met ander sportsoorte vergelyk word. Ons wil graag die kollig plaas op dit waardeur kommersiële skeerders op 'n daaglikse basis gaan wanneer hul voltyds skeer. Dit is 'n uiters fisiese werk, en produsente moet dit oorweeg om hul fasiliteite op te gradeer om skeerders meer produktief te maak en dit vir hul makliker te maak om hierdie uiters uitdagende roetine vol te hou."
Handskeerders skaars
Skaapskeer in Suid-Afrika is tradisioneel deur spanne handskeerders gedoen, maar handskeerders word al hoe skaarser. Die skeerders moet dikwels oor lang afstande aangery word en, selfs wanneer daar nie skeerwerk is nie, gehuisves en onderhou word. In die 1980's het masjienskeer in Suid-Afrika begin posvat.
Daar is baie onkunde rondom skaapskeer en vir Tienie en Marius is dit belangrik om mites en bygelowe hok te slaan. Hoewel sommige mense glo dit is sleg vir die skaap om hom te skeer, sou 'n merinoskaap met 'n vag wat nooit geskeer word nie, later glad nie oor die weg kan kom nie. Die wol van so 'n skaap vermat, en raak 'n digte, onderdringbare massa, en dit raak geweldig swaar. In die somer sal die dier erg sukkel en al minder beweeg. Skape word elke agt maande geskeer om 'n goeie lengte wol vir die mark te lewer.
Wol word geklas en verpak sodat dit in gemerkte bale by die verspreiders aanland.
Skeertyd bly 'n uiters arbeidsintensiewe gebeurtenis op elke plaas, en hoe gouer dit afgehandel kan word, hoe beter is dit vir die boer.
Om die publiek aan wol bloot te stel, is nog 'n voordeel van rekordskeer, want hoe meer mense bewus is van die kwaliteitkontrole van vagte wol, hoe meer sal daar belê word in wolartikels.
"Wol lê my baie naby aan die hart. Ek is immers self 'n wolboer, en ek wil graag die produk bevorder deur hierdie tipe van blootstellingsgeleenthede te benut," sê Tienie.
VERSKAFDE VIDEO:
Tienie du Plessis in aksie.
Marius besig om die RSA Skaapskeerrekord te breek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’