GARIEP NUUS - Die Oos-Kaapse kampioenskeerder, Tienie du Plessis, wat alombekend is vir sy skeervernuf, het die afgelope naweek, 1 en 2 Maart, tydens die Shear Madness 2025-uitdaging binne 24 uur altesaam 1 031 merinolammers geskeer.
’n Spesiale skeertent is by die Gariepdam opgerig waar hy in samewerking met die skaapboere, Jacques Louw en Abraham Steyn, dié uitdaging kon aandurf.
Du Plessis se plan was om 1 000 skape te skeer, en daarvoor was hy vasbeslote om fiks te wees. “Natuurlik verg dit topfiksheid wanneer ’n man vir 24 uur staan en skeer, en deurnag is ook nog ’n ander storie!” sê hy.
Besoekers kon kaartjies koop om die geleentheid by te woon, en hulle het in groot getalle opgedaag om hom in die groot tent by die Gariepdam te ondersteun.
Sy eggenote, Louie, was ook deurlopend teenwoordig om hom by te staan.
Terselfdertyd is daar ook geld vir die Pink Drive, ’n organisasie sonder winsoogmerk vir borskankerbewustheid, ingesamel.
R70 000 is alreeds ingesamel voor die naweek se geleentheid.
African Farming se Vida Booysen sê dat ’n hele aantal van Suid-Afrika se topskeerders aan dié spoedskeerkompetisie deelgeneem het, asook twee skeerders van Australië. Een van hulle, Ethan Harder, het altesaam 135 merinolammers in twee uur geskeer, hoewel die merinos in Suid-Afrika glo moeiliker as dié in Australië skeer.
Booysen het ook tydens ’n onderhoud met Harder verneem dat Suid-Afrikaanse wol harder en growwer is as Australië s’n.
Plaaslike wolkenners het dit aan die Advertiser bevestig, met spesifieke verwysing na die plantegroei waarin Suid-Afrikaanse skape wei.
Australiese skeerders skeer reeds van kleins af, en leer die fyner kunsies by hul pa’s.
Die Suid-Afrikaanse skeerder, Hans van Schalkwyk, het 111 lammers geskeer.
Du Plessis self was aan elektroniese toerusting gekoppel om sy gesondheidstoestand te monitor terwyl hy skeer.
Hy sê dat hy altesaam 9 980 kalorieë tydens die 24 uur se skeeruitdaging verbrand het, en dat hy ’n gemiddelde hartklop van 118 deur die verloop van die aktiwiteite getoon het.
“Ek het deurentyd my hartklop teen ’n hanteerbare spoed gehou sodat ek voltyds sou kon aanhou.
Ek wou my hart op geen stadium ooreis en uitputting veroorsaak nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’