GRAAFF-REINET NUUS - Sekuriteitsdienste in die Dr Beyers Naudé munisipaliteit is al vir lank 'n omstrede kwessie.
Sedert die aanstelling van die vorige sekuriteitsmaatskappy in Junie 2018 was daar kommer oor die plundering van munisipale eiendomme in Graaff-Reinet, terwyl miljoene aan die maatskappy betaal is om die eiendomme te beveilig.
Ten spyte hiervan is die kontrak vir sekuriteitsdienste vir die volgende drie jaar weer teen die einde van 2021 aan dieselfde maatskappy toegeken.
Noudat 'n ander, nuwe maatskappy in 2024 die munisipale kontrak losgeslaan het, is die herrie weer los.
Papierwerk nie in orde
Die nuwe tenders vir sekuriteitswerk in Graaff-Reinet en Aberdeen is op 8 Augustus hierdie jaar op die munisipaliteit se webwerf geadverteer en volgens 'n betroubare bron is die nuwe sekuriteitsmaatskappy reeds aangestel.
Dit het egter onlangs aan die lig gekom dat dié nuwe maatskappy se papierwerk nie in orde is nie.
Die aanstelling word deur belanghebbendes bevraagteken, veral omdat daar op die Reguleringsliggaam vir die Private Sekuriteitsbedryf – beter bekend as Psira – se webwerf aangedui word dat aangestelde sekuriteitsmaatskappye se registrasie onderhewig is aan hernuwing.
Trevor Noni, hoof- uitvoerende beampte van Aberdeen se sekuriteitsmaatskappy, Tremar Security, sê dis 'n reuseprobleem omdat dit beteken dat die betrokke maatskappy nie hul affiliasiefooi aan Psira betaal het nie.
Volgens hom word so 'n maatskappy se profiel gesluit en geen verdere transaksies kan plaasvind totdat Psira 'n inspeksie van die maatskappy se boeke gedoen het nie.
"Hoe gaan hierdie maatskappy hul wagte by Psira registreer terwyl hulle self agter is?"
Graaff-Reinet Advertiser het intussen bevestig dat geen maatskappy enige sekuriteitsdienste in Suid-Afrika mag lewer as hul Psira-registrasie nie op datum is nie. Indien hulle dit wel doen, kan regstappe teen beide die maatskappy en sy werknemers geneem word.
Tender gekanselleer
Benewens die kommer oor die Psira-registrasie het die nuutaangestelde maatskappy ook, volgens Noni, die vorige onderneming se sekuriteitswagte net so oorgeneem. "Die wagte het net oorbeweeg en hulle timesheets, roosters en alles is sommer via WhatsApp vir hulle gestuur," sê hy.
Graaff-Reinet Advertiser het ook vasgestel dat die maatskappy in Junie 2023 deur Transnet Freight Rail (TFR) aangestel is om die steenkoolspoorlyn tussen Mpumalanga en Richardsbaai te beveilig. Hierdie R1,1 biljard kontrak is egter gou deur TFR gekanselleer omdat die maatskappy, volgens TFR, net eenvoudig nie hulle werk reg gedoen het nie.
Die maatskappy se hofaansoek om die kansellasie te beveg is deur die hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys.
Byna R60m vir 142 poste
Dit was nie die eerste keer wat hierdie maatskappy probleme met tenders ondervind het nie. Gauteng Enterprise Propeller (GEP), 'n entiteit van die Gautengse provinsiale regering, het ook in 2019 regsaksie teen die maatskappy ingestel nadat hulle in 2016 aangestel is om
75 000 werksgeleenthede vir werklose jeug te skep, maar misluk het.
Ten spyte daarvan dat hulle meer as R59,7 miljoen tussen 2016 en 2019 ontvang het, het hulle net 142 werksgeleenthede geskep en op grond daarvan het die Gautengse hooggeregshof hulle beveel om R52,3 miljoen aan GEP terug te betaal.
Die versoek vir kommentaar rakende die bogenoemde bekommernisse van belanghebbendes is aan die betrokke sekuriteitsmaatskappy en aan die munisipaliteit gerig maar teen druktyd het hulle nog nie daarop gereageer nie. Die maatskappy se besonderhede word dus eers weerhou om hulle genoeg tyd te gee om te reageer.
KMMO's weer uitgelaat
Noni het ook sy ontevredenheid uitgespreek oor die feit dat Klein, Medium en Mikro-ondernemings (KMMO's) weereens weens die tenderspesifikasies uit die tenderproses uitgesluit was.
Volgens hom is die Dr Beyers Naudé munisipaliteit se sekuriteitstenders so opgestel dat geen opkomende besigheid kan tender nie.
"Geen opkomende besigheid kan R500 000 liability insurance bekostig nie en hulle weet dit goed," verduidelik hy.
"Verder is die agt verskillende dorpe se sekuriteitskontrakte as individuele tenders geadverteer, maar met dieselfde tenderspesifikasies.
"Die dorpe se geografiese uitleg en die aantal eiendomme wat opgepas moet word is glad nie in ag geneem met die opstel van die spesifikasies nie. Inteendeel, dit lyk soos copy-and-paste spesifikasies."
Volgens Noni het hy 'n e-pos aan al die munisipale bestuurders en die plaaslike raadslede gestuur om 'n vergadering hieroor aan te vra, maar tot dusver het hy geen antwoord ontvang nie.
Die feit dat daar voorkeur aan 'n onbekende, ongeregistreerde maatskappy gegee is, terwyl geregistreerde sekuriteitsmaatskappye wat alreeds sekuriteitsdienste in Graaff-Reinet lewer en deur inwoners vertrou word oor die hoof gesien is, word ook deur Noni bevraagteken.
Smhart Security, byvoorbeeld, het glo vir al die tenders aansoek gedoen, maar niks is aan hulle toegeken nie.
'Lagwekkend'
Noni sê hy kon nie vir die nuwe sekuriteitskontrak in Aberdeen aansoek doen nie omdat die tenderspesifikasies so belaglik was.
"Die munisipaliteit se werkswinkel in die dorp en die rioolwerke is die enigste plekke hier wat sekuriteitswagte het. Imagine R500 000 liability insurance net vir dit... Dit is lagwekkend!" sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’