KAROO NUUS - Die onderwysers en skoolbeheerliggaam van Elmor Primêr in Willowmore het verlede Donderdag, 'n deur tot deur veldtog van stapel gestuur om kinders op te soek wat nie skoolgaan nie.
Volgens Zola Menze, een van die lede van die skoolbeheerliggaam, het dit gevolg nadat hulle 'n versoek aan die skoolhoof, Adri Meyer, en die senior bestuurspan van hierdie skool gerig het om die veldtog uit te voer.
Die afvaardiging het hulself in groepe opgedeel en letterlik oral vir kinders wat in die skool behoort te wees gesoek. "Tydens die veldtog het ons op baie kinders afgekom wat by die huis sit terwyl hulle volgens wet op die skoolbanke moet wees," sê Menze.
"Ons het ook op 'n hokkie in die veld afgekom waar skoolkinders gedurende skooltyd bymekaarkom. Die ouers van hierdie kinders is onder die indruk dat hulle skool toe gaan, maar hulle kom nooit daar uit nie." Hierdie hokkie is deur lede van die afvaardiging vernietig.
Die onderwysers en SBL van Elmor Primêr vind dit kommerwekkend dat soveel kinders van skoolgaande ouderdom nie skoolgaan nie. Skoolopvoeding is uiters belangrik, daarom doen hulle 'n beroep op alle rolspelers om hulle te help om kinders terug op die skoolbanke te kry en hulle daar te hou.
Die hokkie in die veld waar leerders gedurende skooltyd bymekaar kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’