Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Vier volwasse olifante pas volgens SANparke goed by hul nuwe tuiste in die Samara Natuurreservaat, buite Graaff-Reinet, aan, ná ’n nagmerrierit om hul bestemming te bereik.
Die bestuurder van ’n groot vragmotor met sleepwa, wat die olifante vervoer het, het op Woensdagmiddag 5 Maart, 60 km van Cookhouse, beheer oor die voertuig verloor. Die voertuig en wa het omgeslaan.
Die N10 was vir verkeer gesluit terwyl die opruimingspan aan die werk was.
Vier veeartse het die vragmotor in ’n motor gevolg om die olifante te vergesel.
Hierdie olifante was ’n skenking van SANparke aan Samara, wat in privaat besit is.
Verkeerspersoneel op die toneel het die verkeer oor Bedford en Alicedale laat vloei, terwyl die veeartse op die toneel na die olifante omgesien het.
Die olifante kon mettertyd weer op hulle pote kom, en geen ernstige sigbare beserings is aan enige van hulle gemerk nie.
Later die middag het ligte reën ook uitgesak, en die olifante kon afkoel.
Die verkeer het vir tientalle kilometers opgehoop, en baie voetgangers het na die ongelukstoneel gestap om foto’s te neem.
Die roete is om 22:10 vir enkelbaanverkeer oopgemaak, en teen 02:00 was die toneel opgeruim.
Verteenwoordigers van die departement van natuurbewaring het vanaf die Addo-olifantpark mettertyd ook opgedaag om die situasie te monitor, en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging het ook van Makhanda (vroeër Grahamstad) na die toneel gereis, en later die aand ’n verklaring uitgereik om die publiek in te lig dat die olifante goed versorg word en onder die omstandighede veilig is.
Volgens die woordvoerder van die departement van vervoer, Unathi Binqose, was daar aanvanklik geskat dat die N10 vir ten minste ses uur gesluit sou wees.
Vragmotors met hyskrane is ook na die toneel ontbied om met die grootskaalse reddingspoging te help.
Video: Samara Natuurreservaat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’