NXUBA NUUS - ’n Man wat in besit van vermoedelik gesteelde eiendom en onwettige ammunisie betrap is, is op 13 April op R15 000 borgtog vrygelaat.
Mullen Nigel Marillier (64) is tydens ’n intelligensie-gedrewe operasie op 10 April in hegtenis geneem.
Wetstoepassingseenhede wat by die operasie betrokke was is die Nxuba honde-eenheid (K9), Nxuba misdaadintelligensie, Nxuba polisie se tweedehandse goedere-eenheid en die Nxuba Plaaslike Kriminele Rekordsentrum.
Nadat die inligting ontvang is dat Marillier in besit is van nie-ysterhoudende kopermetale, is ’n lasbrief bekom en die teikenperseel is ondersoek.
Tydens die deursoeking het die span die volgende items, met ’n geraamde straatwaarde van R145 000, ontdek:
• 17.8 kg koper Telkom-kabels
• 113.4 kg aluminiumdrade
• 1 kg veselkabel
• 2 kg verbrande koperkabels
• 27 x 9mm skerp rondtes ammunisie
Op 13 April het ’n tweede deursoeking van die perseel gevolg nadat inligting ontvang is dat daar meer koperitems in die verdagte se erf sowel as in ’n woonstel agter die eiendom was.
Die volgende items, met ’n geraamde straatwaarde van R13 500, is gevind:
• 2.2 kg verbrande koper
• 36.4 kg Eskom-koper
• 13.6 kg los koper
Die distrikskommissaris, Generaal-Majoor Rudolph Adolph, het die spanpoging geprys en opgemerk dat skade aan infrastruktuur die ekonomie van die land negatief beïnvloed.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’